Die Hoër Meisieskool Oranje se matriekklas van 2019 kan moontlik oor ’n klompie jare met tien mediese dokters spog.
Agt van die 143 matrikulante gaan vanjaar medies begin studeer, almal aan die Universiteit van die Vrystaat. Die agt is Carmen Fichardt, Mandie de Wet, Bianca van der Vyver, Monique Davidson, Deanri Snyman, Gabriela von Eschwege, Tiané Theunissen en Mia Moolman.

Carolyn van der Merwe (Maties) gaan ’n studierigting volg waarmee hulle hoop om keuring vir mediese studie in 2021 te verkry. Marizanne Strydom gaan Veeartsenykunde aan Tuks studeer met die oog om eendag ’n dieredokter te word.

Vier oud-Oranjes wat in 2014 matrikuleer het, het juis verlede jaar saam dokter geword (sien berig). Van die ander studierigtings waarop die Oranje-slimkoppe besluit het, is Bedryfsingenieurswese, Toegepaste medisinale chemie, Arbeidsterapie, Meganiese ingenieurswese, Aptekerswese, BSc Genetika, Fisioterapie, Menslike Bewegingskunde, Aktuele Wetenskap en Internasionale Besigheidstudies.

Uit die 26 leerders wat met ’n gemiddelde A-simbool geslaag het en na Oranje se medaljefunksie genooi was, gaan die oorgrote meerderheid hulle studies aan die Universiteit van die Vrystaat begin. ’n Totaal van 15 word vanjaar ’n Kovsie, ses gaan na Maties, vier na Pukke en een gaan aan Tuks studeer.

Die 26 oudleerders aan die Hoër Meisieskool Oranje in 2019 wat hulle matriek met ‘n gemiddelde A-simbool geslaag het en deur die skool op sy medaljefunksie vereer is, is van links, voor: Anneri Bisschoff, Mia Pretorius, Hesmari Cillié, Chané Steyn, Deanri Snyman, Nadine Kemp, Gabriela von Eschwege, Mia Moolman, Danéll de Villiers, Monique Davidson en Elize Hoffman; agter: Lise Bezuidenhoudt, Talita Robbertse, Carmen Fichardt, Tiané Theunissen, Bianca van der Vyver, Mandie de Wet, Lize de Wet, Carolyn van der Merwe, Talitha Heyns en Marizanne Strydom. Afwesig met die neem van die foto: Megan van der Walt, Benita Schoonwinkel, Jana Redpath, Annique Coetzer en Paula Botha.