Met die aanmoediging van haar sibbe wat wou seker maak sy teken hulle akkuraat, is Anri du Plessis van die Hoër Meisieskool Oranje se kunswerk as een van die 13 bestes in Santam se gesogte kinderkunskompetisie aangewys.
Daar was vanjaar 4335 nasionale inskrywings waaruit 13 gekies is om in die jaarlikse kalender te verskyn.
Wat Anri (gr. 8) se inskrywing so ’n bietjie meer persoonlik maak, is dat dit haar jonger boetie en sussie op haar tekening is.

Die tema was “I spy with my little eye”.
“As my boetie en sussie daardie speletjie speel, sien hulle gewoonlik die helderste kleure raak. My suster (Magda, 6) het ’n helderkleurige skoenlapper raakgesien wat my laat besluit het om haar en Sion (7) in swart en wit te teken en die twee skoenlappers in kleur.
“Ek het hulle buite in die tuin afgeneem waar hulle vooroor leun en my skets van dié foto af geteken,” sê Anri.

Sy het sowat twee maande daaraan gewerk. “Hulle (haar sibbe) het gereeld daarna kom loer en baie kommentaar gelewer. Hulle was uiteindelik tevrede en is baie opgewonde om volgende jaar oral teen mure te pryk.
“Ek het nogal heelwat pluimpies ontvang en gedink ek staan dalk ’n kans. Ek is op ’n punt waar ek graag aan soveel moontlik kompetisies wil deelneem. Ek het met 2018 en 2019 se Bloemskou-kunskompetisie ’n spesiale toekenning ontvang.”

Anri, haar kunsonnie en die skool sal elk ’n kalender ontvang. Anri se inskrywing sal R3000 se prysgeld aan die skool besorg wat dit kan aanwend na sy keuse.
“Anri is ’n besonderse talent. Sy is ver bo haar ouderdomsgroep. Sy kan nog groot draaie maak,” sê Anri du Plessis wat haar naamgenoot se kunsonderwyser is.
* Oranje se Gitte Pieterse (gr. 10) se kunswerk, Somerbriesie het in die 2018-kalender verskyn.

Anri du Plessis, gr. 8-leerder aan die Hoër Meisieskool Oranje, met haar skets van haar boetie en sussie wat een van 13 inskrywings is wat gekies is om in Santam se kalender te verskyn.

Anri se skets