’n Begrafnisonderneming, ’n sepiestel, die brandweerdiens, die Noord-Kaapse wetgewer en ’n speurdiens was onder die keuses van werkplekke waar ’n klompie Oranjeniete tydens hulle skaduweek besoek afgelê het.
Gr. 10’s wat besigheidstudies neem en alle gr. 11-leerders aan Oranje het voorverlede week meer wys oor hulle beoogde beroepe in die werkplek gaan word.

Jané Burger het nie net waargeneem hoe dinge by ’n begrafnisondernemer gedoen word nie, maar self hand bygesit.

“Ek het die hele proses, van die afhaal van die lyk (’n bejaarde vrou wat aan ’n hartaanval oorlede is) tot die begrafnis, eerstehands ervaar en daarmee gehelp. Ek moes ’n lyk toewerk,” sê Jané.

“Ek het die week geniet en sal beslis die beroepsveld oorweeg. My pa was gekok, maar ondersteun my keuse. ’n Mens speel ’n belangrike rol om families deur hierdie moeilike proses te help.”

Hané Rautenbach het haar week saam met ’n privaatspeurder deurgebring.

“Ons het ’n saak ondersoek waar ’n taxibestuurder ’n boom getref en een van die passasiers dood is. Dit was weens foutiewe remme. Ons was op die ongelukstoneel en later in die hof, want die bestuurder is van nalatige moord aangekla en is skuldig bevind,” vertel sy.

Sy het wyle Piet Beyleveld, bobaas-speurder se outobiografie gelees wat haar belangstelling geprikkel het.

Faron Faro sê sy sal ná haar week by die brandweer beslis dié beroep oorweeg.

“Ek wil graag mense help. Ons is op my eerste dag na ’n plaasbrand uitgeroep. Ek wou graag inspring en help, maar is nie toegelaat nie weens veiligheidsredes. Ek het geleer om dapper te wees.”

Kyra Marlow het beleef hoe ’n wetgewer funksioneer. Haar pa, Cyril, is die bestuurder van die Nasionale Raad van Provinsies (NRVP) in die Noord-Kaap.

“Ek het in vergaderings gesit en saam met die NRVP besoek gebring aan droogtegebiede.

“Ek en my pa praat baie politiek en dit sal my tweede keuse ná sielkunde wees.”

Hilda Olivier en Katie Reimers was in Johannesburg op die stel van die sepie Binnelanders en het toegekyk hoe Ontbytsake opgeneem word.

“Ons het meestal saam met die vloerbestuurder gesit en kyk hoe die sepie verfilm word. Ons was ook as ekstras gebruik. Daardie episode gaan in Desember uitgesaai word.

“Cindy Swanepoel en Reynardt Hugo was ons gunstelinge,” sê hulle.
“Reynardt het ons geleer hoe belangrik dit is om ’n agent te hê en hoe om ’n voet in die deur van die industrie te kry.”
Katie wil drama met modeontwerp kombineer en Hilda drama met besigheid.

In sekere gevalle is leerders heeltemal ontmoedig deur dit wat hulle ervaar het, soos Grieta Brummer se ervaring van tandheelkunde. Volgens Grieta het sy tandheelkunde as beroep oorweeg, maar nie meer ná drie dae by ’n tandarts nie.

“Ek het nie gehou van wat ek sien nie. Mense se mondhigiëne is verskriklik. ’n Klomp pasiënte se tande moes getrek word omdat dit bederf was. Dan breek dit ook nog soos die tandarts dit trek. Ek was geskok deur mense se nalatigheid. Dis mense wat dae lank nie tande borsel nie.

Grieta sê dit het ’n gekners van tande en baie deursettingsvermoë gevat om dit te aanskou. “Ek wil nie eens daaraan dink nie. Ek dink ek gaan vir berading moet gaan,” spot sy.

Faron Faro het ’n week saam met die brandweer deurgebring.

Jané Burger het in haar skaduweek ’n begrafnis help reël en uitvoer. Vir een in ’n sekere kerk moes sy ’n rok en hoed dra.

Hilda Olivier saam met die aktrise Cindy Swanepoel by Binnelanders.

Katie Reimers en die akteur Reynardt Hugo by Binnelanders.