Lize-Marié Davidson, swemkaptein van Oranje, het ’n 15de plek by Sondag se Midmarmyl in KwaZulu-Natal vir vroue 14-30 jaar behaal. Haar tyd was 22:48.

Sy was een van slegs 22 vroueswemmers (5 daarvan was 13 jaar en jonger) wat uitgenooi is weens Covid-19-regulasies.
Die uitgenooides was gegrond op verlede jaar se uitslae. Lize-Marié het toe 14de geëindig (24:36) in die ouderdomsgroep 14-30 jaar.

Oranje sou Sondag twee swemmers in die elite-afdeling gehad het. Chloë le Roux was verlede jaar 12de, maar sy is tans beseer. Guilma Lausberg wat in 2020 19de geëindig het, moes dus baie naby aan ’n uitnodiging gewees het.

Dit was Lize-Marié se vyfde Midmar. Haar beste tyd was in 2019 toe sy die 1.6km in 21:30 voltooi het.
Sy sê langafstande is iets wat sy net vir die lekkerde doen en om Sondag langs van die land se beste langafstandswemmers aan te tree, was volgens haar effe intimiderend.

Lize-Marié Davidson