Die jaarlikse Midmarmyl by Howick het aangebreek en die Oranje-eende is al van laas jaar hard aan die oefen. Dit was net vlerkies wat klap en water wat spat sodat hulle gereed sal wees vir Sondag se swem.
Die opwinding is aan die borrel en die meisies klets nou al vir weke hieroor. Party sien uit en ander wil omkap van spanning. Die matrikulant Jana Campbell sê sy weet nie lekker wat om te verwag nie, want dis haar heel eerste keer. Haar vriendinne het haar gerus gestel die toer maak die swem beslis die moeite werd.
Daar is vanjaar 13 gr. 8’s wat die Midmar gaan swem, asook ’n paar in die ander grade wat die swemtog ‘n eerste maal gaan aandurf. Hulle kan gerus hierdie wenke ter harte neem wat hulle dalk kan help:
Maak seker jy het genoeg geoefen, want dis makliker om ‘n myl (nagenoeg 1.6km) in iemand se skoene te stap as om ‘n myl in iemand se flippers te swem. Glo in jouself. Jy kan dit doen!
Agt ure op ‘n bus mag dalk lank word, so pak baie rolprente en padkos in. As jy hou van ysskaats en inkopies doen, moet jy beslis nie jou sakgeld vergeet nie. Maak reg vir lekker inkopiesentrums en uitstappies op die strand waar jy kan koop totdat jou beursie huil.
Maak seker jou selfoon is vol gelaai, want jy gaan dit beslis nodig hê vir al die fotosessies. Onthou om baie sonroon te smeer. ‘n Gebrande lyf op ‘n bus kan net sleg uitdraai. Maak seker jy weet presies waar jy wanneer moet wees. Jy wil nie ná al die moeite laat wees vir die swem nie.
En die belangrikste; gaan groot en geniet dit. En onthou om jou swembroek in te pak!

Dogters voor verlede jaar se Midmarmyl.