DIY, oftewel doen dit self of kry iemand wat kan help.
Dít is van die raad wat ’n klompie matrieks het as dit kom by matriekafskeid en om op jou stukke dié aand te lyk sonder dat jou matriekvakansie in die slag moet bly weens ’n leë spaarvarkie.
Matrieks worstel jaarliks met vrae soos hoeveel betaal ‘n mens nou eintlik vir ‘n rok? Gaan die rok weer gedra word? En hoe kan jy geld spaar met so ‘n duur formele funksie?
Benewens die rok is daar ook die grimering, naels en hare wat alles perfek moet wees.
Verskeie matrieks beveel aan dat jy alles sover moontlik self doen.
Die voordeel van eie-arbeid saam met familie of vriende is dat uiterlike skoonheid nie die enigste produk daarvan is nie, maar wonderlike herinneringe. Grimering word egter meestal nie ligtelik opgeneem nie, die sprankelaand moet mos perfek wees. Dit is juis om hierdie rede dat daar selfs grimeerproeflopies is.
Matrieks se ouers kan ’n paar rand in die sak steek deur gebruik te maak van fotograwe, grimeerkunstenaars of haarkapsters wat nie noodwendig dit in ’n professionele hoedanigheid beoefen nie en dus nie dieselfde fooie hef nie.
Anneri Bisschoff sê byvoorbeeld sy kon geld spaar op foto’s se neem aangesien haar metgesel se pa foto’s as ’n stokperdjie neem. Volgens Rachél van Rijswijk kan jou vriendin se grimeringsvernuf jou ook ‘n paar rand spaar. Rachél was ook in die bevoorregte posisie deurdat haar ma, Hanri, self haar rok gemaak het.
Matriekafskeidrokke word meestal laat maak. Volgens matriekbronne kos gemaakte rokke enigiets van R2 000 en ontwerpersrokkke tot meer as R10 000.
Of dit nou by ‘n ontwerper soos El Heathcote is en of dit jou en jou ma se spanwerk is, hou die meeste matrieks daarvan om sélf agter die steke van die rok te sit. Een van die matrieks sê die moeilikheid van ‘n rok koop of huur is dat jy nie weet of dit jou gaan pas of dat dit nie noodwendig presies is soos jy dit wil hê nie.
‘n Gekoopte matriekafskeidrok is egter ook duur, waarom die meeste die maak-opsie verkies. En die bonus is – dit pas jou soos ‘n handskoen.

Waar baie matrieks groot bedrae geld op hul matriekafskeidrokke moes spandeer, het iemand soos Rachél van Rijswijk se ma se vernuf handig te pas gekom wat self haar dogter se rok gemaak het.