Oranje se matriekklas van 2020 nooi die res van die skool om in 2020 hulle passie uit te leef.
Aanstaande jaar se tema, soos besluit deur die verenigde raad van leerders, is Klop wat staan vir “Kom leef ons passie”. Dis vroeër vandeesweek op die muur langs die administratiewe kantoor geverf.
“Passie is om iets met onblusbare oorgawe te doen en nie toe te laat dat iets of iemand jou stop nie,” sê Flo Truter, hoofdogter van 2020.
“Ons gaan in 2020 fokus op passie vir Oranje, passie vir die Skepper, passie vir die skepping en passie vir mekaar.
“Oranje is die gevoel van eenheid en trots om langs jou sussie te staan en om daai pampoenrok aan te trek tot die matriekdrag wat jou soos ’n lugwaardin laat lyk.
“Oranje is om saam te huil as die matrieks groet en dan die volgende oomblik uit jou bors uit te skree oor so iets so simpel soos trappe – om tradisies te hê wat so diepgehartel is.
“Oranje is ons passie, jy is deel van hierdie vir net vyf jaar, deel van die passie wat harder klop as jou en my hart.
“God het die skepping net so perfek en spesiaal soos sy kinders geskep. Ons het die voorreg om die aarde vir so ’n rukkie te leen. Ons het niks meer nodig vir motivering om ’n passie vir SY skepping uit te leef nie.
“Laastens moet ons ’n passie vir mekaar, die meisie langs jou, die vriendin voor jou, die sussie agter jou en jou medemens hê. Ons is lief vir mekaar, staan by mekaar en leef vir mekaar.
“Mag 2020 ’n uitklophou wees!”

Flo Truter, 2020 se hoofdogter van Oranje, by die leuse waarop die verenigde raad van leerders besluit het. Dis geverf op die muur langs die administratiewe kantoor.