– Deur Danielle Theron
Mia Olivier het tydens die Covid19-grendeltydperk besluit om haar liefde vir oefening met ander te deel en hulle uit te daag om saam met haar te oefen, al sou dit by hulle huis voor ’n selfoonskerm wees waarin hulle haar kon volg.
Mia, ‘n gr.11-leerder, het ’n fiksheidprogram begin en ’n Instagram-rekening geskep, miaolivier_fitness. Hierop verskyn ‘n verskeidenheid oefenprogramme wat wissel vanaf maklik tot meer intensief wat alles op ’n oefenmat gedoen word.
Mia demonstreer die oefeninge sodat ander dit visueel kan sien en sodoende die oefeninge effektief aan aanpak. Volgens Mia verseker sy altyd dat die oefening jou ’n bietjie uit jou gemaksone haal, want die doel is om so ’n bietjie te sweet.
Mia noem ook dat sy nog altyd ‘n passie vir oefening gehad het. “Ek wou hierdie passie met ander deel, veral in die inperkingstyd. Wanneer ek oefen, sit dit my altyd in ‘n goeie bui en spoor my aan om die res van die dag ook produktief te wees.”
Mia vertel dat sy bevoorreg was om die inperkingstyd op hulle plaas te kon spandeer waar sy gereeld kon gaan draf en sodoende fiks kon bly. Volgens haar het sy baie motivering gehad om ekstra vinnig te draf sedert daar ‘n rondloperleeu op hul plaas is en dat dié gedagte haar ekstra gemotiveer het.
By die skool neem Mia, ’n skander leerder wat in 2019 in die top-3 in haar graad gestaan het, aan landloop, hokkie en atletiek deel. Sy motiveer ander leerders om moed te hou, want almal gaan sterker en beter aan die ander kant uitkom.”

Mia Olivier aan die oefen en demonstreer.