As die jongste lid van die Vrystaatse o.19-meisiekrieketspan het dit oortuiging van haar afrigter gekos vir die 14-jarige Miané Smit om die kapteinskapmantel te aanvaar.
Miané, ’n gr. 8-leerder aan die Hoër Meisieskool Oranje, sal die span aanstaande maand in Nelspruit op die nasionale o.19-kriekettoernooi vir meisies aanvoer.
Envrick Cornellissen, ’n gr. 12-Oranjeniet, is ook ’n lid van die span. Geen skool het meer leerders as Oranje se twee nie.
“Dit was ’n skok toe ek die nuus kry. Ek meen, ek is die jongste spanlid en daar is baie meer senior en ervare spelers wat die rol beter kan vertolk. Maar nadat ek met die afrigter gepraat het en hy gesê het hy sien potensiaal, voel ek meer toegerus om die taak te verrig. Ek sien baie uit.
“So tussen die eksamen deur sit en werk ek nou krieketstrategieë uit,” sê Miané.
Sy is ’n kolwer (wat derde of vierde instap om te gaan kolf) en wegbreekdraaier. Miané het verlede jaar, as kaptein van die Vrystaatse o.13-meisiespan ’n hoogste telling van 135 gemoker.
Haar sporttalente is nie net tot krieket beperk nie. Sy het vanjaar vir Oranje se o.14A-netbalspan uitgedraf wat die land se naaste span was.
Sy is ook ’n meisie wat ’n spies meters ver (haar beste is nagenoeg 39m) deur die lug laat trek. Sy het vir die nasionale atletiekbyeenkoms gekwalifiseer waar sy 11de vir meisies o.15 geëindig het.
Verlede jaar, as hoofmeisie van die Laerskool Universitas, het sy provinsiale kleure in hokkie, netbal, tennis, atletiek, meisieskrieket én seunskrieket behaal. Sy doen ook Voortrekkers en speel sosiaal saam met haar broer gholf.
En om dit alles te kroon, vaar sy ook nog akademies goed met ’n gemiddelde van 91,4%.
Envrick, ’n snelbouler wat vir ’n vyfde agtereenvolgende jaar vir die Vrystaat se o.19-span gaan speel en ook reeds die provinsie se senior span verteenwoordig het, is onlangs deur ’n traumatiese ervaring. Haar grootwordhuis het afgebrand. Die helfte van Evrick se slaapkamer is ook vernietig.
Vrystaat Krieket het ’n veldtog begin om goedere vir haar in te samel. Thato Magokare van Vrystaat Krieket kan in die verband geskakel word. Sy nommer is 079-302-4684 en e-pos thatom@cricket.co.za. Volgens Evrick is daar ’n behoefte vir meubels, skoene en kruideniersware.

Miané Smit (links) en Envrick Cornellissen wat vir die Vrystaatse o.19-meisiekrieketspan gaan speel. Miané is die kaptein.