Miané Smit (Fischer, gr. 9) se poging van 40.40m in die spiesgooi vir dogters o.15 was volgens die puntetabel die beste prestasie op Oranje se kleure-atletiekbyeenkoms.
Die geleentheid is Maandag by Pelliespark aangebied. Daar was ’n goeie balans tussen prestasies gelewer in veld- en baanitems.
Huis Fischer was ‘n sesde agtereenvolgende jaar die kampioen. Hulle kon wel nie vir ’n vyfde jaar agtereenvolgens die geesbeker verower nie. Dié het aan Brebner gegaan wie se hoofleidsters Flo Truter en Mariet Eloff is. Brebner het in 2011 laas die geesbeker gewen.
Volgens verlede jaar se afstande in die o.15-ouderdomsgroep op die nasionale skole-kampioenskappe, sou ‘n gooi van 40.40m aan Miané ‘n vyfde plek besorg het.
Ses van die top-10 prestasies volgens die puntetabel wat by atletiekbyeenkomste gebruik word, was in veldtimes met die meeste wat in gewigstoot voorgekom het. Hoe vinniger die tyd of verder die afstand, hoe meer die punte op die tabel.
Germarie Spershott (Otto, o.15, spiesgooi en gewigstoot), Charné Wansbury (Otto, o.15, 100m en 200m) en Marjanell van Dyk (Boshoff, o.19, gewigstoot en diskus) het elk twee van die voorste tien prestasies op die dag gelewer.
Germarie se veelsydigheid is besonders. Behalwe die velditems het sy ook in die 200m (16de plek op die tabel), 100m (22ste beste prestasie) en diskus (45ste) uitgeblink.
– Die beste prestasie per ouderdomsgroep:
o.14: Marilet Blom (Fischer, 200m, 27.81)
o.15: Miané Smit (Fischer, spiesgooi, 40.40)
o.16: Zanelle Jansen van Rensburg (Brebner, 200m, 26.50)
o.17: Klarissa Bezuidenhout (Brebner, o.17, gewigstoot, 10.60)
o.19: Marjanell van Dyk (Boshoff, gewigstoot, 10.27)

Germarie Spershott het op Oranje se kleure-atletiekbyeenkoms in spiesgooi, gewigstoot, diskus, 200m én 100m geskitter. Sy ding ook in hekkies mee (wat nie op die byeenkoms aangebied is nie).