Twee leerders aan die Hoër Meisieskool Oranje, Alex Klopper (15) en Miché Johns (14) het skitterend op die Suid-Afrikaanse biathle en triahle kampioenskap oor die naweek gevaar met ’n eerste plek elk.
Klopper en Johns het Saterdag (15/06) in Durban in die triathle (wat uit ’n swem- en hardloopskof sowel as laserskiet bestaan) die boonste plek op die podium vir onderskeidelik meisies o.17 en o.15 verower. Daar is 25m geswem, 400m gehardloop en oor ’n afstand van 5m geskiet wat elk vier keer herhaal is.
Johns het dit Sondag (16/06) opgevolg met ’n tweede plek in die biathle. Klopper was sesde. Biathle verskil van tweekamp deurdat dit hardloop (800m), swem (100m) en weer hardloop (800m) aaneen is. In tweekamp is daar net een hardloop- en een swemsessie met ’n ruskans tussenin.
Die 14-jarige Anina Groenewald was vyfde in die triathle en Danielle Joubert (14) sewende. Albei Oranje-leerders het in die o.15-ouderdomsgroep meegeding.
Nog ’n Oranjeniet, Caylin de Andrade (15) het ’n vyfde plek in die triathle vir meisies o.17 behaal.

Alex Klopper

Miché Johns