Om in Slowenië te gaan swem, was ’n puik ervaring en een wat sy nooit sal vergeet nie, sê Miché Johns.
Dié gr.8-leerder het in Julie aan die Austrian Cup, ‘n internasionale swemkompetisie in die 5km opewater meegeding.
Sy het vyfde in die jeugafdeling (13 tot 14 jaar) geëindig. Sy het algeheel tiende onder al die ouderdomsgroepe geëindig met ‘n tyd van 1:11:48.
Miché word deur Brent Holmes van die Neptunes-swemklub afgerig. Op ’n vraag oor hoekom sy juis van swem hou, antwoord sy dat swem vir haar ’n uitdaging sowel as ontspannend is.
Sy beplan om aan te hou swem vir so lank as wat sy kan en wil graag ‘n sukses daarvan maak. Sy sê haar prestasies en haar gesondheid sal haar enigste beperkings wees. As dit van haar afhang, sal sy nooit ophou nie.
Hierdie 13-jarige wat op ouderdom sewe die water betree het, het moontlik ‘n blink toekoms wat vir haar voorlê en mag dalk eendag in haar rolmodel, Chad le Clos, se swemspore volg. Sy het immers reeds ’n voet in die deur.

Miché Johns tree op 13-jarige ouderdom groot belofte as swemmer.