Mikkela le Roux, ’n gr. 12-leerder aan die Hoër Meisieskool Oranje kan reeds op 17-jarige ouderdom haar buiging vir die Suid-Afrikaanse o.21-vrouehokkiespan maak.

Sy, sowel as die Oranje-alumnae Saré Laubscher en Jacolene McLaren (albei matriek in 2018) is vir die nasionale junior span van 18 lede gekies. Die span speel van 23 tot 28 Januarie in vier wedstryde, twee daarvan teen Nederland se o.21’s in Stellenbosch.

Mikkela, wat reeds sedert haar haar gr. 9-jaar (2017) vir Oranje se eerstes uitdraf, het ’n puik 2018 agter die rug. Sy was vir die Suid-Afrikaanse o.18A-span gekies én as die beste middelveldspeler op die Interprovinsiale Toernooi aangewys.

Op die St. Mary’s-toernooi was sy die Speler van die Toernooi en Middelveldspeler van die Toernooi. Mikkela het ook verlede vanjaar haar buiging in die senior Premierligahokkieliga (PHL) gemaak.

Saré, ‘n gewese kaptein van OMS se eerste span, het al sedert 2018 die SA o.21’s verteenwoordig. Sy studeer aan die Universiteit van die Vrystaat en Jacolene aan die Noordwes-Universiteit.

Mikkela le Roux