Mnr. Morné Odendaal, afrigter van die Hoër Meisieskool Oranje se eerste hokkiespan, het aan die begin van April op St. Mary’s se hokkietoernooi sy 300ste wedstryd as afrigter van die eerstes meegemaak. Oranje het nogmaals koning gekraai deur Paarl Gimnasium in die eindstryd met 1-0 te troef.
Uit die 300 wedstryde wat hy aan die stuur van sake was, het die span slegs ses keer verloor. Baie van sy wedstryde was teen die land se beste spanne.
’n Totaal van 1486 doele is opgestapel (’n gemiddeld van bykans vyf doele per wedstryd) en slegs 62 is teen Oranje aangeteken.
Odendaal brei die span sedert 2013. Sedert 2014 het Oranje die gesogte St. Mary’s-titel, waar meeste van Suid-Afrika se top-skolespanne in aksie is, vyf uit ses jaar gewen.
Odendaal-hulle het die Top-12 toernooi, waar die beste van die beste meeding, vier uit vyf keer verower.
Oranje het ook nog elke jaar sedert 2013 die kroon by die All Girls-toernooi gevat.
Odendaal het bemarking aan die Universiteit van die Vrystaat gestudeer en vir die Kovsies en Vrystaat hokkie gespeel.

Mnr. Morné Odendaal