Die Hoër Meisieskool Oranje mag dalk verlede jaar twee pianiste onder die personeel verloor het, maar het ’n begaafde een in mnr. Piet Moolman bygekry.
Mnr. Moolman het hom vanjaar by Oranje as musiekonderwyser aangesluit.
Sy eerste liefde is die klavier wat hy meesterlik kan bespeel. Op universiteit was hy verplig om ’n tweede instrument te kies en hy het op dirigeerkuns besluit waar hy moes leer om ’n orkes en koor te dirigeer. Mnr. Moolman is die voormalige bestuurder van die Vrystaatse Simfonie-orkes. Hy was verantwoordelik vir die administratiewe take van die orkes en was nie self by die musiek betrokke nie.
Musiek is ’n passie wat hy al van kleintyd af beoefen en het as kind graag na klassieke musiek geluister. Hy het in gr. 10-jaar sy heel eerste plaat met operamusiek met sy sakgeld gekoop. Sy ouma was ’n musiekonderwyser en sy ma het ook musiek as ’n beroep beoefen.
Mnr. Moolman het in Standerton in Mpumalanga grootgeword en sy hoërskoolloopbaan aan die Hoërskool Standerton voltooi. Ná skool was hy vir twee jaar in die weermag waarna hy musiek aan die Universiteit van Pretoria studeer het.
Sy ewe talentvolle dogter, Mia, was laasjaar ’n matriekleerder aan Oranje. Mia was die leier van die skoolkoor. Sy het met sewe onderskeidings geslaag en studeer vanjaar medies. Mia was ook ’n finalis in die Matrikulant van Jaarkompetisie.
Mnr. Moolman beskou dit as ’n uitdaging om hierdie jaar vir al die gr. 9-dogters die musieknote se name te leer. Volgens hom sal dit ’n hoogtepunt in sy jaar wees indien hulle die note se name kan memoriseer.
Hy beskryf Oranje as ’n fantastiese skool met ’n positiewe kultuur en die goeie dissipline van die leerders is vir hom ’n pluspunt. “Elke mens is uniek en dus belangrik op sy of haar manier. My benadering is om te probeer vasstel wat spesiaal is aan elkeen. Dit maak interaksie met mense lekker as jy positiewe goed in ander raaksien,” sê hy.
’n Dag in sy lewe wat hy graag sal wil herleef, is sy troudag, omdat hy nie genoeg tyd gehad het om saam almal te kuier nie. “Dit is vir my die lekkerste lekker om saam met my gesin vakansie te hou,” sê hy.

Mnr. Piet Moolman