– Deur Chantelle Stadler

Nadat hy ’n klompie jare gelede as ’n proefstudent met Oranje kennis gemaak het, was dit vir mnr. Elandré Rheeder ’n ideaal om eendag hier kom skoolhou.
Dit het toe vanjaar gebeur. Hy gee die vakke sosiale wetenskap en lewensoriëntering.

Volgens hom was dit ’n puik besluit wat hy geneem het. “Dis vir my die beste ervaring van my loopbaan en ek het in ’n kort tyd baie lief vir Oranje geword.”
Hy is buitemuurs onder meer betrokke as tennishoof en sal ook vinnig hand kan bysit as daar iewers klankprobleme opduik, aangesien hy voorheen as ’n klankingenieur gewerk het. Hy sal ook vroegoggend al op die parkeerterrein aangetref word waar hy voorvat met die veiligheidsprotokolle wat die verkeer betref.

Mnr. Rheeder sê hy het ’n groot liefde vir musiek en wou trouens ’n musikant geword het toe hy jonk was.
“Ek wou kitaar speel in ‘n rock band (orkes klink te outyds, dit moes ‘n “cool” band wees) en het in ’n paar gespeel. Ek kan ’n paar instrumente speel – kitaar, baskitaar, harmonicas, dromme en so ’n bietjie ukelele.” Wanneer hy tuis is, gooi hy graag ’n vet skaapvleisie op die kole onder die maan en sterre.

Mnr. Rheeder, wat ’n graad in sielkunde en ’n nagraade onderwyssertifikaat voltooi het, is oorspronklik van Newcastle in KwaZulu-Natal waar hy aan die Hoërskool Ferrum gematrikuleer het. Hy beskryf homself as vriendelik, eerlik, lojaal en opreg en sê die dag in sy lewe wat hy graag weer sal wil oorhê, is sy troudag.

En as mnr. Rheeder die horlosie kan terugdraai, wat sal hy vir daardie jonger self sê? “Dat ek moet ontspan en nie soveel druk op myself plaas nie. Als sal kom met tyd soos dit moet.”

Mnr. Elandré Rheeder