Me. Retha Pool, regisseur en skrywer van die Hoër Meisieskool Oranje se grensverskuiwende produksie Tyd.Saam, sê die teatergode het gekom en alles laat werk.
Dié poppeteaterstuk is Saterdag as die wenproduksie onder die 24 deelnemers op die streekfees van die ATKV-tienertoneel in die Wynand Mouton-teater aangewys.
Oranje het ’n rekord-aantal sertifikate (24, waarvan nege goud) ingeoes, selfs een vir spel deur Jenny, die donkie wat op die verhoog gemanipuleer word. Pool is as regisseur, hantering van tegniese aspekte, skrywer en vir spesiale effekte met ’n goue sertifikaat vereer.
Volgens Pool was dit tyd vir Oranje om grense te verskuif.
“Dit was ons aangepak het, pas nie in die boks van tienertoneel nie. Dit was iets wat of kon werk, of glad nie. Dis ’n voorbeeld van totale teater en ’n samekoms van ’n paar onkonvensionele dissiplines. So het ons beligtingsoperateur (Faron Faro) met twee handflitse tussen die spelers op die verhoog rondbeweeg. Ek is trots op wat ons vermag het.”
Volgens die deurwinterde Henriëtta Gryffenberg, een van die beoordelaars, het die skool heeltemal buite die boks gedink.
“Julle het elke reël wat daar is, gebreek, maar dit met grasie gedoen. Dit was net ongelooflik. Ek het gesit en huil. Julle het my op ’n reis geneem. Dís waaroor teater gaan.
“Vir my was dit een van die lekkerste teaterervarings van my lewe. Hoe julle ’n dooie ding (die donkie) so lewendig kan maak, is ongelooflik.”
Pool sê in die 12 jaar wat sy by die skool se tienertoneel betrokke is, was vanjaar se aantal AKTV-toekennings dubbeld soveel as in die verlede.
“Ek het later ongemaklik begin voel met hoeveel keer ons na die verhoog geroep is.” Jenny het haar sertikiaat, met behulp van haar manipuleerders, Kristen Fichardt en Thanya Venter, in ontvangs gaan neem met een van die organiseerders wat haar poot geskud het.
Die akteur Marlo Minnaar, nog ’n beoordelaar, het ook groot lof vir Tyd.Saam gehad.
“Die beligting het absoluut gewerk. Jy kon regdeur die vertoning ’n spelt hoor val. Ek het nog nooit so ’n stil gehoor ervaar nie. Julle het elegant, subtiel en stil gespeel.”
Oranje tree aanstaande naweek weer in Montagu op. Hulle sal later hoor of hulle een van die 16 produksies op die ATKV-eindronde gaan wees.
* Die toekennings:
Goud:
Elsa Krantz as stemkunstenaar
Erick Strydom vir die ontwerp en maak van die donkie
Retha Pool vir hantering van tegniese aspekte
Faron Faro vir beligtingsontwerp
Retha Pool vir nuutgeskrewe teks
Retha Pool vir regie
Retha Pool vir spesiale effekte
Elke speler vir ensemble
Produksie
Silwer:
Karin van der Vyver as stemkunstenaar
Retha Pool vir choreografie
Katie Reimers vir spel
Thanya Venter as Jenny se agterlyf
Kristen Fichardt as Jenny se kop
Retha Pool vir klankbaan
Retha Pool vir stelontwerp
Rehanjo as klankoperateur
Louiza Combrinck (oud-oranje vir die pop up boek)
Brons:
Kostuums
Jenny vir spel
Kiara Rademan vir spel
Katie Reimers as Jenny se hart
Hilda Olivier vir spel
Rehanjo Swanepoel as stemkunstenaar

Die Hoër Meisieskool Oranje se wenproduksie op die AKTV-tienertoneel se streekfees het groot lof en ’n spul toekennings ontvang. Van links, voor is Retha Pool (skrywer en regisseur), Rehanjo Swanepoel en Hilda Olivier; agter: Katie Reimers, Faron Faro, Kiara Rademan, Kristen Fichardt en Thanya Venter.

Konrad Botha, die ATKV se koördineerder vir die tienertoneel se streekfees, skud Jenny die donkie se poot om haar geluk te wens met haar bronssertifikaat vir haar spel in Tyd.Saam. Regs staan twee van die beoordelaars, Henriëtta Gryffenberg en Marlo Minnaar.

Kristen Fichardt (links) en Thanya Venter wat vir die manipulering van die donkiepop in die Hoër Meisieskool Oranje se produksie Tyd.Saam verantwoordelik is,