’n Gewese Protea-afrigter en ’n huidige Protea-speler bevind hulle vanjaar op die afrigtingspanne van Oranje se netbal.

Burta de Kock, hoofbreier van die senior nasionale netbalspan in 2006 en 2007 en weer ’n hulpafrigter in 2011, brei vanjaar Oranje se eerste netbalspan saam met juf. Corné Marais.

De Kock word as een van die skerpste netbalbreine in die land gereken. Haar welslae met die Vrystaat en Kovsies is welbekend.

Sne Mdletshe wat verlede jaar jaar buiging vir die Proteas gemaak het, is vanjaar vir die afrigting van die o.16A- en o.16B-spanne verantwoordelik. Sy behartig ook die spelers se kondisionering.

Dis die tweede keer wat Juf. Marais die eerstes onder hande neem. Sy het voorheen dié taak tussen 2014 en 2015 verrig.

In 2014, toe sy ook die o.17A’s afgerig het, het dié span tweede op die SA’s geëindig. Haar o.14A-span van 2019 was ook die land se naasbeste span.

Verskeie Proteas het in onlangse jare by Oranje afgerig, waaronder Lefébre Rademan, Maryka Holtzhausen, Charlene Hertzog en Adéle Niemand. Holtzhausen en Hertzog het in hulle speeldae die Proteas aangevoer.

Netbal blyk vanjaar weer ’n baie gewilde keuse onder die dogters by Oranje te wees. Daar is soos verlede jaar 27 spanne. Dis drie meer as in 2019.
Daar is selfs agt o.14-spanne. Dis ongekend by Oranje.

Die eerste skote van die netbalseisoen klap Dinsdag wanneer Oranje sy tweede aandreeks aanbied. Tien OMS-spanne sal in aksie wees.

— Die netbalafrigters vir 2021 is:
o.18A: Corné Marais & Burta de Kock
o.18B & C: Kobi-Mari Rautenbach
o.18D & E: Christine Hugo
o.17A & B: Alta Roodt
o.16A & B: Sne Mdletshe
o.16C & D: Azille Nel
o.16E & F: Johanette Jacobs
o.15A & B: Karlien Janse van Vuuren
o.15C & D: Meghan Maasdorp
o.15E & F: Chantelle Botes
o.14A & B: Surita le Roux
o.14C & D: Lise-Mari Roodt
o.14E & F: Bianca Pienaar
o.14G & H: Lida Ezendam

Mev. Burta de Kock en juf. Corné Erasmus, afrigters van Oranje se eerste netbalspan in 2021.