Die Hoër Meisieskool Oranje se eerste hokkiespan het vir ’n sewende agtereenvolgende jaar die spogregte as die voorste hokkiespan in die stad.

Hy het Woensdag in ’n spannende eindstryd van die Bloemfonteinse liga in ’n uitskietstryd oor Eunice High School geseëvier.

Die telling was 1 elk tot drie minute voor die einde voordat Eunice die voortou geneem het, maar Oranje dadelik die gelykmaker aangeteken het om die eindtelling op 2 elk te staan te bring.
In die uitskietstryd het Oranje drie meer doele as Eunice gesink.

Die Oranjeniete het daarmee die liga onoorwonne afgesluit en sal op 24 Augustus teen die ander steekswenners om die provinsiale kampioenskap meeding en probeer om ook ’n sewende jaar op ’n streep die Vrystaatbeker te verower.

Tellings in die liga is op 7-0 gestop.
Oranje het St. Michaels, Sentraal, Eunice se tweede span en Oranje se tweede span almal met 7-0 verslaan. Jim Fouché is met 4-1 geklop, Fichardtpark met 4-0 en Eunice 2-0.
In die halfeindronde was Oranje ook met 4-1 te sterk vir JF.

Oranje se tweede span het vierde geëindig.

Ook Oranje se o.16A-span is die Bloemfonteinse wenner nadat hy ook onoorwonne in sy liga was. In die eindstryd was dié span met 6-1 te sterk vir Eunice.
Die derde span het die tweede liga gewen en die vierde span die trofee in die derde liga verower.

Die o.14A’s is die naaswenner ná sy nederlaag van 3-4 in die eindstryd teen Eunice. Hy het groot veggees getoon ná ’n groot nederlaag vroeër in die liga teen dieselfde teenstander.

Die Hoër Meisieskool Oranje se eerste hokkiespan, die Bloemfonteinse kampioen vir ’n sewende agtereenvolgende jaar, is van links, voor: Elné Lourens, Irmarie Buys, Sumari Janse van Rensburg, Matilé Prinsloo, Megan-Lee Myburgh, Mikkela le Roux, Truné Prinsloo en Ané Janse van Vuuren; agter: Morné Odendaal (afrigter), Mandie de Wet, Roné Bresler, Miné Janse van Rensburg, Tuané van der Westhuizen, Zoë Erasmus, Jané Britz, Amori Roos (kaptein), Elney Botha en Lucia Theron (spanbestuurder).