Sy is nog nie eens 18 jaar oud nie, maar speel reeds saam en teen die land se voorste hokkiespelers.
Die 17-jarige Mikkela le Roux, ’n gr. 11-leerder aan die Hoër Meisieskool Oranje, is gekies om in die Premierligahokkieliga (PHL) te speel.
Sy sal vir die Rangers in aksie wees.
Die liga het op 18 Julie begin. Mikkela sal egter nie in die eerste naweek kan speel nie, aangesien haar skool in ’n interskole-wedstryd teen Collegiate Girls’ High School betrokke is.
Saam met haar in die Rangers-span is die Proteas Lisa Deetlefs, Kristen Paton, Nomnikelo Veto en Hannah Pearce.
“Dis ’n wonderlike geleetheid om saam met hierdie topspelers te speel. Ek sal baie by hulle kan leer. Ek is wel ’n bietjie op senuwees om teen die seniors te staan te kom,” bieg Mikkela wat reeds sedert haar haar gr. 9-jaar (2017) vir Oranje se eerstes uitdraf.
Sy is verlede maand vir die Suid-Afrikaanse o.18A-span gekies én as die beste middelveldspeler op die interprovinsiale toernooi aangewys.
Nog een van haar spanmaats is Antonet Louw wat haar skoolloopbaan in 2014 met ‘n merkwaardige 300 doele vir Oranje se eerste span afgesluit het.
“Ek sien geweldig uit om langs haar te speel. Sy is ’n inspirerende speler en was ’n hulpafrigter van ons Suid-Vrystaatse o.18-span verlede maand (wat tweede geëindig het).”
Dit wemel van oud-Oranjes in die PHL. Benewens Louw is daar Carienke Jacobs, Jacolene McLaren en Simoné Gouws wat vir die Rafters speel en Lizanne Jacobs, Mia Barnard en Saré Laubscher vir die Daisies.
In 2016 was daar vyf huidige en oud-Oranjes in die liga en in 2017 en 2018 vier.
Mikkela gaan egter nie teen enige van haar oudspanmaats in die groepfase te staan kom nie, aangesien haar span in die eerste naweek reeds die Rafters en Daisies aandurf.
Die wedstryde wat in Randburg beslis word, word op SuperSport uitgesaai.

Die 17-jarige Mikkela le Roux van die Hoër Meisieskool Oranje se eerste hokkiespan, gaan saam met vier Proteas in die land se senior Premierligahokkieliga speel.