Die Hoër Meisieskool Oranje het die naweek twee kampioene op die Suid-Afrikaanse Pentathlon en Laser Run Kampioenskappe opgelewer.
Hulle is Caylin de Andrade (o.19) en Alex Klopper (o.17).

Die kompetisie is by die Hoërskool Sentraal in Bloemfontein aangebied. Ses Oranje-leerders het vir die Vrystaat deelgeneem.

Die 15-jarige Alex het haar twee o.17-titels wat sy verlede jaar in Pretoria in die laser run en pentathlon verower het, weer hare gemaak. Danielle Joubert (14) was albei kere tweede.
Caylin het in die laser run die eerste posisie vir o.19-meisies vermag.

Laser run bestaan uit skiet (met ’n laser pistool) en hardloop wat vier keer herhaal word.
In Alex se geval was dit skiet vanaf 10m en 400m se hardloop terwyl Caylin vanaf 10m geskiet het en 800m gehardloop het.

In pentathlon (ook bekend as vyfkamp) word daar geswem (200m vir o.17’s), geskerm, geskiet vanaf 10m en gehardloop (800m drie maal). ’n Vyfde item, perdry, word eers vanaf o.19-vlak aagebied.

Drie ander Oranjeniete het vir die Vrystaat in die laser run deelgeneem. Anina Groenewald was vierde in die o.17-afdeling, Trusten Barnard derde en Lané van Rooyen agtste (albei o.15).

Alex Klopper

Caylin de Andrade