Die Hoër Meisieskool Oranje se matriekklas van 2019 het vroeg in die jaar rede vir groot feesvieringe verskaf met die puik akademiese uitslae wat hulle opgelewer het.
Behalwe die slaagsyfer van 100% en universiteitstoelating van 91,6%, was dit die toppresteerders wat provinsiaal uitgestyg het.

Nege leerders, die meeste in die provinsie, het in die top 50 in die Vrystaat geëindig. Dis ook die meeste ooit deur die skool. Die nege is Benita Schoonwinkel, Elize Hoffman, Mandie de Wet, Monique Davidson, Gabriela von Eschwege, Talitha Heyns, Marizanne Strydom, Lize de Wet en Mia Pretorius.

Daarbenewens het vyf Oranjeniete (Lise Bezuidenhoudt, Marizanne, Gabriela, Talitha en Lize) agt onderskeidings behaal. Dis ook meer as enige ander skool in die Vrystaat. Slegs 15 leerders in die provinsie kon agt of meer onderskeidings vermag.

Dit was so hittete of vier verdere Oranje-leerders het met agt onderskeidings gespog. Talitha Robbertse (6 A’s) het in twee vakke 79% behaal, Mia Moolman (7 A’s) in een vak 79%, Tiané Theunissen (6 A’s) het in haar twee ander vakke 79% en 78% vermag en Carmen Fichardt (7 A’s) het 78% in haar agtste vak bereik.

9 leerders het 7 onderskeidings behaal, 3 leerders spog met 6 onderskeidings, 3 leerders het 5 onderskeidings vermag en 2 leerders het 4 onderskeidings agter hulle name geskryf.
Van die 143 Oranje-leerders wat die eksamen afgelê het, het 26 met ‘n gemiddelde A-simbool geslaag.

Oranje is aangewys as een van die top 10-skole in die provinsie vir Wiskunde en Fisiese Wetenskap.

Gabriela (93,7% en 8 onderskeidings) is Oranje se Dux-leerder en is in die top 5 in die provinsie. Sy en Elize het die seldsame prestasie van 100% in Duits gelewer.
Gabriela het ook in twee ander tale die septer geswaai deur 90% in Afrikaans huistaal en 93% in Engels eerste addisionele taal te behaal. Haar huistaal is Duits. Sy was ook in musiek haar skool se beste presteerder (87%).
Gabriela se punte in haar oorblywende vier vakke is Lewensoriëntering (93%), Lewenswetenskap (93%), Fisiese wetenskap (96%) en Wiskunde (91%).
– Die ander Oranje-toppresteerders in elke vak is:
Geografie: Kiara Rademan (87%)
Rekeningkunde: Mia Pretorius (97%)
LO: Mia Pretorius (94%) & Marizanne Strydom (94%)
Verbruikerstudie: Wilma Crous (79%)
Drama: Anneri Bisschoff (86%)
Wiskundige geletterdheid: Linda-Louise Hefer (93%)
Wiskunde: Monique Davidson (94%)
Fisiese wetenskap: Monique Davidson (98%)
Besigheidstudies: Deanri Snyman (87%)
Kuns: Lize de Wet (90%)
RTT: Hesmari Cillié (88%)
Lewenswetenskap: Lize de Wet (95%)

Die nege oudleerders aan die Hoër Meisieskool Oranje wat in die top 50 in die Vrystaat in die 2019 rekordeksamen geëindig het, is van links, voor: Benita Schoonwinkel, Elize Hoffman, Mandie de Wet en Monique Davidson; agter: Gabriela von Eschwege (dux-leerder), Talitha Heyns, Marizanne Strydom, Lize de Wet en Mia Pretorius.