Die Hoër Meisieskool Oranje se atlete het ’n algehele tweede plek en vyf nuwe rekords op die Vrystaat hoërskole-kampioenskappe vermag.
Oranje het die naweek in Sasolburg die naasmeeste goue medaljes van die 201 deelnemende skole verower. Daar was 20 goues, 8 silwer en 9 brons om Oranje-atlete se nekke gehang. Oranje het ook al drie sy aflosse (o.14, o.15 en o.16) gewen.
Altesaam 41 atlete was in aksie. ’n Totaal van 46 Oranjeniete het vir die byeenkoms gekwalifiseer, maar vyf moes hulle onttrek.
Van die 21 nuwe Vrystaat-rekords wat verbeter is, is vyf daarvan deur Oranjeniete opgestel.
Charné Wansbury (o.15) het die 100m (12.26) en 200m (24.84) in nuwe rekordtye afgeblits. Dít nadat sy vooraf eers ’n uitdun in albei gehardloop het. Die vorige rekord in die 200m is in 2007 aangeteken. Charné is nou die houer van vier Vrystaat-rekords: 100m o.14, 100m o.15, 200m o.14 en 200m o.15.
Cora Groenewald (o.19) se poging van 5.62m in die verspring het die vorige rekord wat 17 jaar lank gestaan het, uit die boeke gevee.
Germarie Spershott (o.15) wat vier goue medaljes in die spiesgooi, aflos, 90m-hekkies en 300m-hekkies versamel het, het laasgenoemde item in ’n rekordtyd (44.05) vermag. Sy het daarmee die voormalige SA junior kampioen en oud-Oranje, Annneri Moolman (née Ebersohn), se vorige Vrystaat-rekord (44.48) van 2005 oortref.
Johani van Tonder (o.16) was die wenner in die verspring, hoogspring en driesprong. In die verspring het sy die Vrystaat-rekord van 2009 van 5.34m na 5.46m verbeter.
* Die Oranje-atlete met die meeste goue medaljes op die byeenkoms is:
4: Germarie Spershott (o.15) in die 300m-hekkies, 90m-hekkies, spiesgooi en o.15-aflos.
4: Charné Wansbury (o.15) in die 100m, 200m, o.15-aflos en o.16-aflos.
3: Johani van Tonder (o.16) in die verspring, hoogspring en driesprong.
3: Carlé Stockenström (o.14) in die 400m, 800m en o.14-aflos.
3: Roline Louw (o.15) in die 400m, o.15-aflos en o.16-aflos.

Vier atlete van die Hoër Meisieskool Oranje het rekords op die Vrystaat hoërskole-kampioenskappe verbeter wat almal langer as 11 jaar gestaan het. Van links is Charné Wansbury, Germarie Spershott, Johani van Tonder en Cora Groenewald.