Die netbalspanne van die Hoër Meisieskool Oranje het hulle reeds in die Vrystaat bewys, nou kry hulle die geleentheid om dit op nasionale vlak te doen.
’n Rekord-aantal van vier Oranje-spanne is van Vrydag in Boksburg op die jaarlikste Nasionale skolekampioenskap in aksie. Provinsies stuur hulle voorste twee spanne per ouderdomsgroep.
Oranje se o.18A-, o.17A-, o.16A- en o.14A-span, almal Vrystaatkampioen van 2019, sal in Boksburg meeding. Verlede jaar was die o.18A’s agtiende, die o.17’s sewentiende en die o.16’s sewende.
Die eerste span van Oranje het verlede maand geskiedenis gemaak het toe hy die eerste maal ooit as Vrystaatse kampioen gekroon is. Hy is in ’n relatiewe maklike groep geloot. Die hoërskole Nhlanhlayethu (KwaZulu-Natal), OR Tambo (Limpopo) en Modilati (Gauteng) is nie een ’n bekende netbalskool nie. Die vyfde span in die groep is wel.
Die Hoërskool Diamantveld, wat verlede jaar in Boksburg 13de geëindig het, het ’n goeie Wildeklawer SuperSkole-toernooi gehad (waar die land se beste teenwoordig was). Diamantveld het tot die halfeindronde gevorder waar hy deur die uiteindelike kampioen, Paarl-Gimnasium, uitgeskakel is.
Volgens Retha Erasmus, die afrigter, is die doelwit om minstens onder die voorste agt spanne te eindig. Om dít te vermag gaan hulle dalk weer met die Hoërskool Sentraal, soos in die Vrystaatdag se eindstryd, moet klaarspeel.
“Ek is tevrede met die groep waarin ons ons bevind, veral in vergeleke met verlede jaar toe ons in die groep van die dood was. Bygesê, die onbekende skole kan soms ’n verrassing inhou. Die sleutel gaan wees om met Diamantveld af te reken. Dan wag of Sentraal of Potchefstroom-Gimnasium waarna die kwarteindronde volg.
“Bestendige spel en om die doele te sink gaan deurslaggewend wees,” sê Erasmus wat in haar tweede seisoen by Oranje is.
Die span het ’n terugslag gehad met Lise Bezuidenhout, aanvallende vleuel, wat haar kruisligamente geskeur het. Sy word deur Tiané Theunissen vervang.
Die span is: Carli Olivier, Lisa Cronje, Surené Fourie (kaptein), Enid Bezuidenhout, Minke Kruger, Janine Moolman, Bianca Pienaar, Eilir Lindeque en Tiané Theunissen.

Die eerste netbalspan van die Hoër Meisieskool Oranje kan die naweek in Boksburg ’n kleim afsteek as een van Suid-Afrika se voorste spanne. Heel links is die afrigter, Retha Erasmus.