Eerste in die Vrystaat in drie vakke.
Dís die nuutste spognuus wat die 2019-matriekklas van die Hoër Meisieskool Oranje vermag het en volg op die nuus dat die nege leerders in die top 50 in die Vrystaat en vyf leerders met agt onderskeidings, die meeste deur enige skool in die provinsie is (sien berig hier).
Die skool het in die vakke Engels eerste addisionele taal, Afrikaans huistaal en Duits tweede addisionele taal die beste in sowel die Motheo-distrik as Vrystaat gevaar. Net vakke wat deur tien of meer leerders geneem word, word vir die rangorde in ag geneem. Oranje het op een na in al sy vakke in die top 10 in die Vrystaat geëindig.
Dit is die 11de opeenvolgende jaar wat Oranje die voorste uitslae in Afrikaans behaal het. Die gemiddelde was 68% met 17 onderskeidings. Die onnies wat die vak vir matrieks aangebied het, is juff. Renette van der Walt, Lucia Theron en Johanette Jacobs.
Die klas van 2019 het in Engels ’n gemiddelde van 74% met 39 A’s gehandhaaf. Dit word deur juff. Naretha Swanepoel, Adéle Dempers en Deirdré Cloete onderrig.
In Duits het Oranjeniete geskitter met ’n gemiddelde van 80% en 26 onderskeidings. Juff. Wilmie Vosloo, Kristin Göbel en Brigitte Botha het die vak gegee. Gabriela von Eschwege en Elize Hoffman het 100% in die vak bereik.
Oranje het ook in Wiskunde en Rekeningkunde presteer. Die skool se Wiskundepunte was die tweede beste in die Vrystaat en beste in die Motheo. Die gemiddelde was 65% en daar was 17 A’s. Die onnies betrokke was mnr. Stefan Buys en juff. Alta Roodt en Carien James.
In Rekeningkunde, onderrig deur juff. Ilse Olivier en Anne-Marie Klink, is ’n derde plek in die Vrystaat en eerste plek in die Motheo vermag. Die gemiddelde was 71% en 12 leerders spog met ‘n onderskeiding.