Die welslae wat die Hoër Meisieskool Oranje se netbal en hokkie die laaste ruk plaaslik behaal het, het nou ook oorgespoel na nasionale vlak.
’n Spul van dié Bloemfonteinse skoolmeisies is die afgelope week as nasionale kampioen of naaswenners gekroon.
Daarby is vier hokkiespelers, Mikkela le Roux, Amori Roos, Truné Prinsloo en Matilé Prinsloo, en een netbalspeler, Janine Moolman, vir nasionale spanne gekies.
Die Vrystaatse o.18-netbalspan, die Cheetahs, het die eerste keer die dekade die All Ages-toernooi in Boksburg gewen waarna Bianca Pienaar, ’n spanlid, as een van die top 35-spelers aangewys is.
Die Cheetahs se o.17-span met Carli Olivier en Lisa Cronjé as spanlede is die tweede jaar agtereenvolgens die land se beste provinsiale span. Olivier was die enigste Vrystater onder die top 35 o.17-spelers.
Janine Moolman is die enigste Vrystater in die SA o.16-span wat in Augustus aan die Cossasa Spele (vir Suid-Afrika lande) in Zambië gaan meeding.
Pienaar, Olivier, Cronjé en Moolman is lede van Oranje se eerste span wat vroeër in Junie as provinsiale kampioen gekroon is.
Die Suid-Vrystaatse o.18-hokkiespan, met nege Oranjeniete in sy geledere, het net-net in die eindstryd van die interprovinsiale toernooi in Pietermaritzburg vasgeval. Die eindstryd teen Noordelikes het gelykop geëindig waarna die Gautengers in ’n uitskietstryd geseëvier het.
Antonet Louw, ’n oud-Oranje was die span se hulpafrigter.
Le Roux is vir die SA o.18A-span gekies én as die Middelveldspeler van die Toernooi aangewys.
Roos, mede-kaptein van die span, is in die SA o.18B-opgeneem en die Prinsloos in die SA o.17-span.
Volgens Morné Odendaal, afrigter van Oranje se eerste hokkiespan, het Roos en Matilé Prinsloo gewys aanhouer wen.
“Daar was ná die eerste dag in Pietermaritzburg proewe vir tien doelwagters gehou. Amori was oor die hoof gesien. Sy kon maklik besluit het om te gaan lê, maar het aanhou goed vertoon.
“Matilé (gr. 11) speel vanaf gr. 9 vir die eerstes, maar was aanvanklik vanjaar weggelaat. Sy het vir die tweede span gespeel, super hard gewerk en haar plek herwin.
“So dis nogal merkwaardig – van tweede span vir Oranje, tot die eerste span, tot die Vrystaatspan tot die SA-span in een jaar,” sê Odendaal.

Die Oranje-spelers in die Suid-Vrystaatse o.18-hokkiespan, die land se naaswenners, is van links, voor: Mandie de Wet, Jané Britz, Roné Bresler, Mikkela le Roux en Amori Roos; agter: Elney Botha, Antonet Louw (hulpafrigter), Megan-Lee Myburgh, Matilé Prinsloo en Truné Prinsloo.

Janine Moolman, SA o.16-span.

Bianca Pienaar, SA o.18 top 35-speler.

Carli Olivier, SA o.17 top 35-speler.