Die Hoër Meisieskool Oranje sal die naweek op die netbalbane iets probeer vermag wat hy nog nooit voorheen kon doen nie.
Dít is vir al vyf sy A-spanne (o.14, o.15, o.16, o.17 en o.19) om vir die Nasionale kampioenskap te kwalifiseer.
Al vyf dié spanne speel die naweek teen die provinsie se ander streekswenners. Die voorste twee spanne sal vir die SA’s van 19 tot 21 Julie in Boksburg kwalifiseer.
Oranje het al by twee geleenthede, in 2015 en 2017, vier spanne op die SA’s gehad, maar kon nog nie daarin slaag dat al vyf sy spanne kon deurdring nie. In 2014 en 2018 was drie van sy spanne in Boksburg in aksie.
Verlede jaar het die o.19’s, o.17’s en o.16’s onder die beste twee spanne in die Vrystaat gestel.
Vanjaar se o.14A- en o.15A-spanne behoort ’n sterk aanspraakmaker om ’n top twee plek te wees, aangesien hulle die Motheo-kampioen is. Trouens, 12 van Oranje se spanne was as streekskampioen gekroon.
Wedstryde word by die Hoërskool Sentraal se bane aangebied. Die o.15’s speel by die Laerskool Willem Postma.
Die eerstespan begin sy aanslag Vrydag om 17:00 met ’n stryd teen die Hoërskool Witteberg van Bethlehem.
Om 09:40 is die Hoërskool Goudveld aan die beurt en Wilgerivier van Frankfort om 11:20.
Die halfeindstryde is om 13:10 en die eindstryd om die Vrystaatse kampioen te kroon, begin om 15:10.

Die eerste-netbalspan van Oranje sal die naweek probeer om onder die top twee spanne in die Vrystaat te eindig om sodoende vir die Nasionale kampioenskap later in die maand te kwalifiseer.