Drie spanne onder die top 10 en een van hulle die land se naasbeste netbalspan.
Só het die Hoër Meisieskool Oranje se vier netbalspanne op die naweek se Nasionale Skolekampioenskap in Boksburg vertoon.
Oranje se o.14A-span was die skool se fakkeldraer en het tot die eindstryd deurgedring waar hy teen Affies met 5-20 vasgeval het. Die o.14’s se tweede plek was die beste deur enige van die Vrystaatse spanne.
Provinsies se voorste twee spanne per ouderdomsgroep dring tot die nasionale kampioenskap deur. Die vier spanne van Oranje wat gekwalifiseer het om na Boksburg te reis, was die meeste nóg deur dié skool.
Die o.14-span, wat ses oorwinnings in sewe wedstryde op pad na die eindstryd behaal het, word deur Corné Marais afgerig.
Die vorige keer wat een van Oranje se spanne onder die voorste twee in die land geëindig het, was ook onder Marais se breierskap in 2014 toe haar o.17’s tweede was.
Twee nederlae agtereenvolgens op die tweede dag het die eerste span duur te staan gekom. Die span, wat vanjaar die eerste keer ooit die Vrystaatse kampioen is, het daarna met twee seges oor die Hoër Meisieskool Bloemhof (31-22) en die Hoërskool Kempton Park (29-26) teruggeslaan om die 13de plek te verower. Dis ’n verbetering op die 18de plek van verlede jaar.
Ná seges oor OR Tambo (58-4), Nhlanhlayethu (32-23) en Modilati (30-8) op die eerste dag, het Oranje Saterdagoggend voortgegaan om met Diamantveld (23-21) af te reken. Die Oranjeniete het egter teen Shayamoya Sekondêr van Kokstad met 17-20 in die kwarteindstryd vasgeval. Hierna het nog ’n nederlaag teen die Hoërskool Noordheuwel (17-20) gevolg.
Oranje se o.17- en o.16-spanne het albei tiende geëindig.
Flolinda Truter, hulpdoelverdediger van Oranje se o.17-span, het ’n toekenning ontvang vir ’n speler wat uitgetroon het. Dié toekenning is per speler per ouderdomsgroep gedoen.

Die Hoër Meisieskool Oranje se o.14A-netbalspan, die land se naasbeste vir 2019, is van links, voor: Diané Steyn, Karla Victor, Mia Visagie en Khanyilse Dumane; agter: Karli van Heerden, Miané Smith, Roline Louw, Anandi Botha, Mienke Delport en Cornè Marais (afrigter).