Die matriekklas van 2019 by die Hoër Meisieskool Oranje het twee maande nadat hulle finaal klaar met skool is, groot eer aan hulle alma mater se onnies gebring.

Verskeie onderwysers is Saterdag op die Motheo-onderwysdistrik se plegtigheid vereer vir die uitslae wat in die 2019 Nasionale Senior Sertifikaat-eksamen vermag is.
Nege vakke se leerkragte het erkenning geniet. Oranje het die beste in rekeningkunde, Afrikaans huistaal, Engels eerste addisionele taal en wiskunde presteer, was tweede in wiskundige geletterdheid en fisiese wetenskap en derde in besigheidstudie, rekenaartoepassingstegnologie en verbruikerstudie.
Slegs vakke wat deur ’n minimum van 15 leerlinge geneem is, is in berekening geneem.

Oranje is as die beste wiskunde- en wetenskapskool aangewys en is een van 15 skole in die distrik wat ’n 100%-slaagsyfer behaal het waarvoor ’n trofee ontvang is.
Daarbenewens het Oranje die beste in die Vrystaat in Engels eerste addisionele taal, Afrikaans huistaal en Duits tweede addisionele taal gevaar. Oranje het op een na in al sy vakke in die top 10 in die provinsie geëindig.

Dit is die 11de opeenvolgende jaar wat die meisieskool die voorste uitslae in Afrikaans behaal het. Die gemiddelde was 68% met 17 onderskeidings.
Die skool se punte in wiskunde was die tweede beste in die Vrystaat met ’n gemiddelde van 65% en 17 A’s.
■ Rianie Kriel, ’n oud-Oranjeniet (2010) wat aan die Christian Brothers College skoolhou, is vereer as beste onderwyser in Engels Huistaal.

Onderwysers van die Hoër Meisieskool Oranje is Saterdag deur die Motheo-onderwysdistrik vereer en as die beste wiskunde- en wetenskapskool aangewys. Dié vakke se onderwysers is van links Stefan Buys, Carien James, Alta Roodt (almal wiskunde), Ilse Wessels en Christian Fourie (albei fisiese wetenskap).