Die toneelstuk Tyd.Saam van die Hoër Meisieskool Oranje het verskeie goue toekennings en ’n spesiale trofee op die Logan Toneelfees ingeoes.
Die fees is die afgelope naweek vir ’n 44ste jaar op Fraserburg aangebied. Dit was al vir menige akteur die eerste stappie na die professionele verhoog.
Me. Retha Pool, Oranje se drama-onderwyser en skrywer en regisseur van Tyd.Saam, het goud vir sowel die teks as regie ontvang.
Haar teks en die dogters se spel het ook ’n benoeming ontvang vir ’n ATKV-toekenning vir kreatiewe gebruik van Afrikaans (teks) en beste ensemble.
Ander goue toekennings is gedoen vir ensemble en die klank. Die beligting en kostuums het ’n silwertoekenning ontvang.
Rehanjo Swanepoel, die klankoperateur wie se stemopname tydens die stuk gebruik is, is met silwer vereer vir haar stemwerk.
Oranje se toneelstuk, ’n poppeteater-aanbieding, het die Sir-trofee ontvang vir die manipulering van die donkiepop. Dié taak is deur Kristen Fichardt en Thanya Venter verrig. Die ander spelers was Katie Reimers, Hilda Olivier en Kiara Rademan.
Benewens Rehanjo was Faron Faro (beligtingsoperateur) en Erick Strydom (popmaker) agter die skerms betrokke.
Dié produksie is weer op 9 Augustus op die planke. Dit word dan om 16:00 op die ATKV-tienertoneel in die Wynand Mouton-teater opgevoer. Toegang is gratis.

Kristen Fichardt (links) en Thanya Venter wat vir die manipulering van die donkiepop in die Hoër Meisieskool Oranje se produksie Tyd.Saam verantwoordelik is, het die naweek op die Logan Toneelfees op Fraserburg ’n spesiale toekenning daarvoor ontvang.