’n Klompie leerders aan die Hoër Meisieskool Oranje wat die afgelope jaar besonderse prestasies op die sportgebied behaal het, het Dinsdagaand erkenning daarvoor op die Vrystaat Sportsterre-banket ontvang.
Die eerste hokkiespan, nogmaals die land se voorste een vanjaar, is as die skolesportspan van die jaar vir meisies aangewys. Die span se breier, Morné Odendaal, is as die skolesport se afrigter van die jaar vir meisies gekroon.
Arina Nicolaisen het weggestap met die toekenning as die beste Vrystaatse sportster met gestremdheid.
Sy het die 800m in die T38-klas (atlete met ’n serebrale gestremdheid) op die Wêreldkampioenskappe vir gestremde junior atlete in ’n rekordtyd gewen. Die vorige rekord het 18 jaar gestaan.
Vyf ander Oranje-leerders is vereer in die afdeling vir skolesportsterre. Om hiervoor benoem te word, moes hulle ’n nasionale span gehaal het of internasionaal meegeding het. Die vyf is:
Chloë le Roux (swem): Lid van die Suid-Afrikaanse opewater-swemspan na die French Cup waar sy tweede in die junior-afdeling (15 tot 18 jaar) in die 5km geëindig het. Sy was derde onder al die ouderdomsgroepe. In lewensredding was sy die o.15 victrix ludorum.
Janine Moolman (netbal): Lid van die Suid-Afrikaanse o.16-netbalspan wat aan die Cossasa Spele (vir Suider-Afrika lande) in Zambië sou meeding, maar die spele was afgestel. Speel reeds vir die skool se eerste span wat die eerste keer ooit die Vrystaatse kampioen is.
Linge Steenkamp (tennis): Speel vir die Suid-Afrikaanse o.19-skolespan teen Zimbabwe en ’n SA Universiteite-span. Eindig negende in die enkelspel op die Nasionale Junior toernooi. Op die TSA Growthpoint-toernooi behaal sy ’n derde plek in die enkels.
Mikkela le Roux (hokkie): Word vir die Suid-Afrikaanse o.18A-hokkiespan gekies nadat sy op die Interprovinsiale Toernooi as die middelveldspeler van die toernooi aangewys is. Sy was ook as die beste speler op die St. Mary’s-toernooi aangewys.
Sulinke van den Berg (lewensredding): Lid van die nasionale mensereddingspan wat op die Wêreldkampioenskappe ’n bronsmedalje in die 200m “super-lifesaver” behaal. Op die nasionale kampioenskap het sy ’n nuwe SA rekord, ses goue- en twee silwermedaljes behaal en is as die victrix ludorum vir meisies o.18 aangewys.

Sportlui van die Hoër Meisieskool Oranje wat op die Vrystaat Sportsterre-banket vereer is, is van links Janine Moolman (netbal), Mikkela le Roux (hokkie), Linge Steenkamp (tennis), Amori Roos (kaptein van eerste hokkiespan, Vrystaatse skolesportspan van die jaar vir meisies) en Arina Nicolaisen (atletiek en Vrystaatse beste sportster met gestremdheid), Afwesig: Sulinke van der Berg (lewensredding) en Chloë le Roux (swem).