Die Hoër Meisieskool Oranje se netbaldiepte was nogmaals beklemtoon met die eindstryde van die Motheo-liga verlede Donderdag (16/05) waar 12 van sy spanne as vanjaar se streekskampioen gekroon is.

Nog drie spanne was die naaswenners. Al vyf die A-spanne gaan volgende maand saam met spanne van die Hoërskool Sentraal en Eunice High School sake teen die ander streekswenners uitspook waar twee plekke per ouderdomsgroep op die spel is na die nasionale skolekampioenskap in Augustus in Boksburg.

Oranje se o.19A-, o.17A- en o.16A-spanne was verlede jaar in Boksburg in aksie met die o.16’s die beste gevaar het met ’n sewende plek.

Oranje se eerstes het weliswaar verlede week nederlae van 11 en 15 doele teen onderskeidelik die Hoërskool Sentraal en die Affies gely, maar dié skolespanne is tans die land se tweede en derde beste span ná hulle in dié posisies op die Wildeklawer-Superskole geëindig het.

Dit volg op Oranje se eerstespan wat vroeër vandeesmaand sy titel op die National All Girls’ Festival in die Paarl verdedig het toe hy al tien sy wedstryde oortuigend gewen het met ’n wenmarge van gemiddeld 16 doele per wedstryd. Die hoofdoel, Bianca Pienaar, was as die toernooi se beste doelskieter aangewys.

Oranje se o.17A-span het Vrydag in sy interskole-kragmeting teen Affies in Bloemfontein met 18-elk gelykop gespeel, terwyl die o.16A’s met 25-23 aan die wenkant was. Die o.15’s het met net drie doele vasgeval.

Verlede jaar was self ’n jaar van onderskeiding vir Oranje se netbal. Die eerstespan was die Motheo-kampioen en vier van sy leerders het Suid-Afrika internasionaal verteenwoordig. Chantelle Hutton en Kailah Ferreira het vir die Suid-Afrikaanse o.18-span gespeel en Carli Olivier en Wilmi van Heerden vir die SA o.16-span. In albei spanne was Oranje die enigste skool met twee leerders.

Volgens Corné Marais, netbalhoof, word daar sedert 2013 ’n goeie voorseisoenprogram gevolg.

“Ons het ook meer wedstrydgeleenthede vir ons spanne begin bied. Ons is die enigste Vrystaatse skool wat ses spanne in die liga inskryf en gee ons E- en F-spanne die geleentheid om vriendskaplik in die B-afdeling deel te neem. Die mededinging onder mekaar dryf elke dogter tot beter prestasie.”