– Om na die volledige debat in die senior-eindronde te kyk, kliek hier.
– Vir beeldmateriaal van die junior-eindronde, kliek hier.
Vir ’n derde keer in vier jaar het die Hoër Meisieskool Oranje se debatvoerders skoonskip in die jaarlikse Dink-of-Sink-debatskompetisie gemaak.
Die skool het soos in 2016 en 2017 in sowel die senior- as junior-afdeling met die louere weggestap. Verlede jaar het die junior span koning gekraai.
Die twee wenspanne sal op 5 Oktober aan die landswye eindronde deelneem waar albei Oranje se spanne in 2016 die kampioen was.
Sestien spanne bestaande uit nege skole het in die sentrale streek se twee afdeling meegeding. Al die debatte was in Afrikaans.
Die senior span, bekend as #Een(d) met sy spanlede Chané Nel (gr. 10), Jaden Henney en Christi Dempers (albei gr. 11) het in die eindronde teen die Hoërskool Sentraal te staan gekom. Hulle word deur mev. Adéle Dempers afgerig.
#Een(d) het die loot gewen en oombliklik besluit om teen die onderwerp te debatteer. Die onderwerp is daarna aan die spanne gegee en dit was “jong mense se toekoms in Suid-Afrika is duister”. Die Oranjeniete moes dus aanvoer waarom die toekoms nie duister is nie.
Christi het ook ’n prys ontvang as die beste taalgebruiker in een van die klasse waarin die uitdunrondes plaasgevind het.
Die junior-afdeling is deur die Bek-ghoeroes, Elsabé Paulsen, Annemie Grobler en Tuané Heyns gewen. Hulle is almal gr. 9-leerders en word deur mev. Reinette van der Walt gebrei.
Hulle het vir die onderwerp “koerante se dae is getel” gepraat.
Hulle teenstanders in die eindronde was hul mede-skoliere, die Kopspinners bestaande uit Cara van der Bijl, Anina Groenewald en Karli van Heerden (almal gr. 8).

Die Hoër Meisieskool Oranje het in albei afdelings van die Dink-of-Sink-debatskompetisie koning gekraai. Van links, voor is die senior-span #Een(d) se Chané Nel, Christi Dempers en Jaden Henney; agter: Die juniors (Bek-ghoeroes) Annemie Grobler, Tuané Heyns en Elsabé Paulsen.