Presies 70 jaar nadat hy die laaste keer by Oranje skoolgeloop het, het Chris Heyns vir die eerste keer na die meisieskool teruggekeer om sy skooldas, jaarblad en rapporte vir die skool te skenk.

Heyns het van Roodepoort na Bloemfontein gereis om verlede Vrydag Grey-kollege, sy alma mater, se verjaardagvieringe mee te maak.

Die 77-jarige Chris, wat op skool as Christo bekend was, was in 1948 en 1949 in sub A en sub B in Oranje. Dié meisieskool het tot in die laat 1970’s seuns in daardie twee grade gehuisves. Wyle Bram Fischer was een van die bekende seuns wat in Oranje was.

Tussendeur Chris se rapporte en jaarblad van 1949 (waarin ’n kort opstel van hom verskyn) was ook ’n handgeskrewe briefie van sy sub A juffrou, Hilda Postma wat in 1949 ná 25 jaar by Oranje klaargemaak het. Saam met haar briefie het sy vir Heyns ’n sakdoek gegee toe hy een dag siek was. Dié herinnering het Heyns bewoë gemaak.

Heyns, wat sy hele loopbaan in die bankwese gewerk het, sê dit was sy eerste besoek aan Oranje in 70 jaar.

Chris Heyns