Hulle wou só graag weer vir hulle skool hokkie speel, dat twee oud-Oranjes al die pad van Potchefstroom na Stellenbosch (sowat 1 300km) gereis het vir wedstryd van 25 minute.
Vir die eerste keer in die geskiedenis van die 23ste interskole tussen die Hoër Meisieskole Oranje en Bloemhof is ’n hokkiewedstryd vir oudleerders van die skole aangebied.
Oranje het dié verkorte wedstryd Vrydagmiddag met 3-0 gewen.
Onder die 13 spanlede was Mia Barnard en Saré Laubscher wat onderskeidelik in 2017 en 2018 matrikuleer het en etlike wedstryde vir die eerste span gespeel het. Hulle studeer aan die Noordwes-Universiteit in Potchefstroom en het spesiaal vir die geskiedkundige stryd na Stellenbosch gereis.
Die wenspan het ’n monsterspan in die veld gestoot. Antonet Louw, wat 300 doele in haar loopbaan van vyf jaar vir die eerste span behaal het, is vanjaar aan die brand vir die Kovsies en was die voorste doelskieter in albei die nasionale studentekompetisies.
Cornelle Holtzhausen is ’n voormalige Protea en etlike van die ander oudleerders het al vir die Suid-Afrkaanse o.21- en Skolespan gespeel.
Vyf van hulle – Minke van Heerden, Jana Greeff, Antonet Louw, Sonika van Heerden en Marli van Deventer – het oor die 200 keer vir OMS se eerstes uitgedraf.
Vyf van die spelers het die eerstes aangevoer – Frances Louw, Marli van Deventer, Lienkie van den Heever, Saré Laubscher en Jana Greeff.
“Hierdie span is ongelooflik. Dit wys jou net wat ons by Oranje het, die feit dat almal tot hier (in Stellenbosch) gekom het om nog een keer die Oranje-speeldrag aan te trek,” sê Morné Odendaal wat bykans hulle almal in Oranje se eerste span die laaste sewe jaar afgerig het.
“Hier is spelers wat ’n klomp groot dinge in die lewe bereik het, maar ek dink die grootste is om weer saam te wees, want dis wat hulle wou gehad het.”

Dertien gewese lede van die Hoër Meisieskool Oranje se eerste hokkiespan het weer saamgespan om in ’n wedstryd vir oudleerders te speel. Hulle is van links, voor: Cornelle Holtzhausen, Mia Barnard, Sonika van Heerden, Marli van Deventer, Antonet Louw en Saré Laubscher; agter: Minke van Heerden, Jana Greeff, Joné Krös, Lienkie van den Heever, Morné Odendaal (hul breier op skool), Carienke Jacobs en Frances Louw. Afwesig: Esté van Schalkwyk.