Nie net is die Hoër Meisieskool Oranje se eerste hokkiespan sedert 2013 klokslag die land se voorste meisies-hokkiespan nie, sy spelers word klaarblyklik ook reeds geskool om ná skool welslae op die hokkieveld te behaal.
Dít was duidelik in vandeesmaand se tweejaarlikse Varsity-hokkiereeks vir vroue waarin verskeie van dié Bloemfonteinse meisieskool se oudleerlinge hulle stempel afgedruk het. Nege oudleerlinge was in aksie.
Antonet Louw (matriek in 2014) het die toernooi as die voorste doelskieter afgesluit en Simoné Gouws (2017) was in die gesamentlike tweede plek. Albei het vir die Universiteit van die Vrystaat se Kovsies uitgeblink wat derde in die reeks geëindig het.
In vyf van die Kovsies se agt wedstryde het die Speler van die Wedstryd-toekenning aan ’n oud-Oranjeniet gegaan. Lizanne Jacobs (matriek 2017) en Louw is albei twee keer vereer en Simoné Gouws een maal.
Gouws het verlede jaar as ’n 19-jarige haar buiging vir die senior Protea-span gemaak nadat sy vroeër ook vir die Suid-Afrikaanse o.21-span gespeel het en as die beste speler op die o.21-provinsiale toernooi aangewys.
Geen skool het in die twee Varsity-halfeindstryde meer spelers op die veld as Oranje se sewe gehad nie. Oranje se buurskool, Eunice High School is deur ses alumni’s verteenwoordig en Paarl Gimnasium het drie gehad.
Die sewe oud-Oranjes was die Kovsies se Jacobs, Louw, Gouws en Esté van Schalkwyk (matriek in 2016) en vir die Pukke het Mia Barnard (2017), Jacolene McLaren en Saré Laubscher (albei 2018) gespeel.
Hoewel hulle nie in die halfeindronde vir die Kovsies gekies was nie, het Mikayla Claassen en Frances Louw (nog twee oud-Oranjes) vroeër in die reeks ook vir die Kovsies uitgedraf.
Volgens Morné Odendaal, afrigter van Oranje se eerstes sedert 2013, is dit ‘n riem onder die hart om te sien hoe die dogters ná skool steeds aanhou presteer.
“Daar was letterlik sewe van ons spelers op die veld in die halfeindstryd tussen die Kovsies en Pukke. Dit maak ‘n mens trots. Ek het nie geweet vir wie om te skree nie.”
Volgens Odendaal is hierdie moontlik ‘n getuigskrif dat daar op skolevlak ‘n passie vir die spel by die spelers gekweek word en hulle met die nodige vaardighede toegerus word om ná skool verdere welslae te behaal.

Saré Laubscher (links) en Jacolene McLaren met die Varsity-hokkietrofee wat die Pukke onlangs gewen het. Hulle en nog ’n spanmaat, Mia Barnard (wat nie in die eindstryd in aksie nie) was almal in 2017 lede van Hoër Meisieskool Oranje se eerste hokkiespan.