– Deur Karli van Heerden (gr. 9, OMS-redaksielid)

Harde werk, opofferings en geloof in jouself.

Dís die woorde waarmee Lefébre Rademan jong netbalspelers sal toerus en wat haar self tot by die netbalkruin gekry het. Dié afrigter by Oranje kan met gesag praat nadat sy einde verlede jaar die hoogste vlak in haar sport bereik het. Sy is vir die Proteas geskies en het sedertdien in 12 toetse as hulpdoel gespeel. In die Nasiesbekertoernooi in Januarie teen Nieu-Seeland, Jamaika en Engeland het sy dikwels die beginspan gehaal.

Sy verwys na haar ma, Kokkies, as haar grootste motiveerder. Sy was ook haar eerste afrigter toe sy vir ’n o.9-span senter gespeel het.

Volgens Rademan, wat vanjaar die o.15C- en o.15D-spanne van Oranje afrig, het sy al op o.15-vlak die eerste keer provinsiale kleure vir die Wes-Kaap verower. Sy was op die Hoërskool Langenhoven in Riversdal. Die Wes-Kaapse o.18-span waarvan sy ’n lid was, was in haar matriekjaar (2014) die nasionale kampioen. Dit was in daardie einste jaar wat die saadjie geplant is wat in 2019 vrug sou dra toe sy vir die Suid-Afrikaanse senior span gekies is.

Dié saadjie is deur Burta de Kock, afrigter van die Vrystaat-Crinums en die Kovsies, by haar geplant. De Kock het vir Rademan op ’n skoletoernooi sien speel en vir haar gesê “van jou maak ek ‘n Protea-netbalspeler”. Rademan sê sy het eers gedink die tannie is van haar sinne beroof, maar sy het daarvan begin droom. Sy het in 2015 onderwys aan die Kovsies begin studeer waar De Kock haar begin afrig het.

“Dit was baie spesiaal om verlede jaar as die Varsity-netbalreeks se Speler van die Toernooi sowel as die Spelers se Spelers van die Toernooi aangewys te word,” sê Rademan.
Ané Retief, ’n spanmaat en goeie vriendin, sê Febs (soos sy onder haar spanmaats bekend is) is op die baan ‘n baie hardwerkende speler en motiveerder.

Behalwe netbal is Rademan ook ‘n bekwame perderuiter en het kursusse in ruiterkuns gedoen en aan vele perderuiterskompetisies deelgeneem voordat netbal haar hooffokus geword het.

Die spanlede van Oranje se o.14C- en o.14D-netbalspanne in 2019 het gereeld vir hulle afrigter, Lefébre Rademan, ondersteun wanneer sy vir die Kovsies gespeel het. Sy was verlede jaar die kaptein.

Boonste foto deur Xandri Fourie.