Kamryn Lowe, ’n gr. 8-leerder aan die Hoër Meisieskool Oranje, is nie op haar mond geval as dit kom om haar sê te sê voor ’n gehoor (of in die geval voor ’n kamera) nie. En dit boonop in Engels.
Sy is een van sewe redenaars van haar skool wat deur is na die nasionale ronde van die Radikale Redenaarswedstryd in Oktober. Hulle moes hulle toesprake vooraf opneem en instuur.
Sy is die enigste van die agttal wat in die nasionale ronde in twee afdelings sal meeding, in Engels eerste addisionele taal en in die lees-afdeling.
Kamryn het verlede jaar, as ’n leerder aan die Laer Meisieskool Oranje, ’n derde plek nasionaal op die ATKV se redenaarskompetisie verower en was as die beste taalgebruiker vir gr. 6’s en gr. 7’s aangewys.
Mieke Louw (gr. 10) en Rehanjo Swanepoel (gr. 12) se Engelse toesprake is ook goed genoeg geag. Karlien van der Merwe (gr. 8), Katelyn Visser (gr. 10), Vianke Herbst en Marné Clase (albei gr. 11) het saam met Lowe in die lees-afdeling deurgedring.

Kamryn Lowe