Twee jong naellopers van die Hoër Meisieskool Oranje het Vrydag op die HTS Louis-uitnodigingsbyeenkoms in die Mangaung-stadion elk ’n nuwe byeenkomsrekord opgestel.
Charné Wansbury het die 100m vir o.15’s in ’n rekordtyd van 12.48 afgeblits. Die kwalifiseringstyd vir die SA Skolebyeenkoms is 12.64. Charné was ook in die 200m (25.71) bobaas.
In die 400m vir o.14’s het Carlé Stockenström in ’n tyd van 61.38 oor die eindstreep gevorder. Carlé het in die 800m in 02:26.31 geseëvier.
Oranje-atlete het 15 eerste plekke behaal waarvan drie deur Johani van Tonder (o.16) in die hoogspring, verspring en driesprong.
Zanelle Janse van Rensburg (100m-hekkies en 400m, o.16) en Marilet Blom (100m en 200m, o.14) was in twee items aan die wenkant.
Marilet blyk ’n veelsydige atleet te wees. Sy het ook ’n derde plek in die 400m en in die 90m-hekkies vermag.

Drie van die belowende gr. 8-atlete by Oranje is van links Marilet Blom, Carlé Stockenström en Cara Smith wat tussen hulle vyf eerste plekke, een tweede en drie derde plekke op die HTS Louis-uitnodigingsbyeenkoms verower het.