– Deur Michelle Strydom
Dit loop op sy tone in ons gange af – so stilletjies, onverwags en ongesiens. Amper soos ‘n dief in die nag. As hy jou land se grense oopskop, is dit reeds te laat. Covid-19 is hier om te kom steel en te verwoes. Amper soos ‘n brullende leeu.
Van arm tot adel: nie één mens word oorgesien danksy sogenaamde status of rykdom nie. Dis soos die droogte waarmee Suid-Afrika so welbekend is – niemand se bankrekening is stabiel genoeg om reën (of genesing) te kan koop nie.
Daar is net Een wat die wolke kan laat saampak; wat die doodsengel kan beveel watter huise om oor te slaan. Die Een wat gekom het om aan ons die lewe in oorvloed te bring, kan voorwaar deur geen weelde omgekoop word nie. Wat Hy besluit, staan vas.
Selfs die magtige Corona kan nie die almagtige God wat ons aanbid, vasbind nie. Nie die invloedrykste of slimste sal ooit daarin kan slaag nie.
Die dag wanneer Jesus op die wolke kom, sal niemand Hom kan keer nie. Daar sal nie meer tyd wees om handreiniger te spuit of eers jou masker te soek nie. Dan sal net dié wat reeds Sy verlossing aan die kruis as masker dra, kan saamgaan. Slegs dié wat rééds gereed is, want vir húlle sal Hy nie soos ‘n dief in die nag wees nie.
Covid-19 is ook hier om te genees: ons verhoudings met mekaar en met ons Skepper. Dit is nou Corona-tyd. Nou is die tyd waarvoor God ons beveel het om nie bang te wees nie.
Dis in tye soos dié wanneer ons moet vashou aan geloof wat seker is van die dinge wat ons hoop en oortuig is van, die dinge wat ons nie sien nie. Nou is die tyd waarin die kinders van Jesus vol vrede saam met Paulus kan se: “Om te lewe, is vir my Christus, en om te sterwe, is vir my wins.”

Michelle Strydom