Net soos wat die naam van Con Spirito beteken “musiek met geesdrif”, het die lede van Oranje se gewilde sanggroep die naweek maraton-oefensessies met geesdrif deurgewerk om seker te maak hulle begin die jaar op ’n hoë noot en nootvas.
(Kyk hier hoe hulle oefen of hier hoe hulle verlede jaar optree)
Daar was die naweek skouer aan die wiel gesit ter voorbereiding vir die reeks optredes wat voorlê. Hulle eerste optrede vind kort voor lank plaas.
Die groep, wat sy ontstaan in 2002 gehad het en sedert 2011 onder leiding van mnr. Stefan Buys is, betaan vanjaar uit 16 lede met streng keuring wat gegeld het. Jaar ná jaar skryf talle dogters hulle name op die oudisielys met die hoop om deel van die groep te word.
Volgens mnr. Buys is daar nie ’n wegkruipplek in die groep nie. “Almal se stemme is uiters belangrik in elke liedjie, omdat elke stem so hoorbaar is,” het hy aan die groep sangers verduidelik.
Rehanjo Swanepoel, leier van Con Spirito, sê daar heers groot geesdrif onder die dogters. “Opgewonde begin nie eers om my gevoel oor die jaar te beskryf nie. Met die vooruitsig van ons jaarlikse optrede by interskoles, kunswedstryde en deelname aan die All Girls’ School Festival werk ons ywerig om optrede-reg te wees,” sê sy.

Mnr. Stefan Buys en die dogters van Con Spirito Saterdag tydens hulle oefening.