– Deur Danielle Theron (OMS-redaksielid)
Teenstanders wat vanjaar Oranje op die tennisbaan aandurf, mag by tye dink hulle sien dubbeld. Wanneer hulle boonop teen die identiese tweeling, Nina en Mia Schimper in ’n dubbelspelwedstryd te staan kom, word dit Schimper-kwadraat.
Die Schimper-sussies in gr. 8 pak klaarblyklik dinge saam-saam by die skool aan. Hulle het verlede jaar as leerders aan Oranje Primêr die Suid-Afrikaanse laerskoletennisspan in die buiteland verteenwoordig. Albei was lede van die leerderraad en altwee het vir die Suid-Vrystaat hokkie en vir die Vrystaat tennis gespeel.
Maar dis in kennis waar hulle waarskynlik nog baie wedstryde vir Oranje gaan wen. Vir Nina en Mia is tennis nie net nóg ‘n deelname aan sport nie, maar eerder ‘n passie wat elke dag uitgeleef word.
Die sussies speel gereeld dubbels saam, maar noem dat wanneer hulle teen mekaar speel “hulle alles uithaal”. Dit is dan ook volgens Nina hulle hardste wedstryde en so word ‘n bietjie goeie kompetisie geskep.
Vir die tweeling is twee van die wêreld se beste spelers, die Spanjaard Rafael Nadal en Ashleigh Barty van Australië, spelers na wie hulle opkyk en graag wil nastreef. Verder glo hulle dat jy alles met passie moet doen of eerder glad nie.
Hulle noem dat twee weke voor ‘n toernooi die belangrikste tydperk is en dat jy daarom baie tyd op die baan moet spandeer en dat harde werk altyd beloon sal word.
Hulle geniet dit om saam met hulle vriende langs die baan te kuier of selfs net hul vriende om hulle te hê.

Mia (links) en Nina Schimpers