‘n Mens spot gereeld en wonder hoe dit sal voel om ‘n vlieg teen die muur te wees tydens ‘n spesifieke situasie. Die skaduwerkweek bied aan gr. 11-leerders só ‘n geleentheid.
Hierdie week, indien dit reg bestee word, kan leerders help om ‘n toekomstige loopbaan te kies, of om hulle gerus te stel oor wat hulle besluit het hulle wil doen.

Party meisies verkies om die heel week in ‘n speisfieke loopbaanrigting hulle skaduwerk te doen. Ek het egter na soveel verskillende beroepe as moontlik gaan kyk. Ek dink nie dis goed om jou tot net een beroepsrigting te beperk nie, want sodoende kan jy moontlik ‘n uitstekende beroepsveld miskyk.
Ek het vyf heeltemal uiteenlopende rigtings vanuit ‘n ander oogpunt leer ken.

As ‘n passievolle lid van die Vooruit-redaksie, behoort dit niemand te verras dat ek gekies het om verslaggewers by Volksblad te besoek nie. Die prentjie wat ek in my kop gehad het van joernaliste wat by die kantoor uithardloop en bereid is om hul lewe op die spel te plaas om ‘n goeie storie na te jaag, is ietwat verkeerd bewys. Die moderne joernalis se belangrikste stukkie gereedskap is sy/haar selfoon. Met hierdie stukkie tegnologie word stories van die uithoeke van die wêreld versamel.

Vir elke meisie wat haarself in die toekoms as prokureur of advokaat kan sien, beveel ek sterk ‘n besoek aan een van die howe in Bloemfontein aan. Iemand daar het aan my verduidelik jy moet jouself goed ken en ook moet besef in dié beroep jy werklik met die skuim van die aarde te doen sal kry. Dit was ontstellend om binne in die hof te sit, die beskuldigdes te sien en te besef hulle lyk eintlik maar soos gewone mense.

Vir die voornemende boekhouers en ouditeurs, beveel ek nie skaduwerk aan nie. Gesels eerder met ‘n ingeligte en ervare persoon in daardie veld om meer uit te vind oor wat presies die beroep behels. By ‘n groot firma sal jy heel moontlik ‘n klerk se werk vir die dag moet beskou (en dis nou nie juis die mees opwindende ding nie).

Ná die week is ek oortuig skaduwerk is baie nuttig. My horisonne is definitief verbreed. Hoewel ek nie noodwendig eendag die beroepe sal volg wat ek in die week bestudeer het nie, was die ervaring steeds nuttig.

Die meeste van my klasmaats stem saam: skaduwerk kan jou help met die groot besluite oor jou toekoms, hetsy deur aan jou te openbaar wat jy regtig wil word, of deur net aan jou te wys wat jy beslis nie wil doen nie.

* Christi Dempers is ’n gr. 11-leerder aan Oranje.

Christi Dempers