Kultuuraktiwiteite, wat nou ’n groot deel van die jaarlikste interskole tussen die Hoër Meisieskole Oranje en Bloemhof uitmaak, het eintlik met toeval sy ontstaan gehad.
Volgens juf. Brigitte Botha, onderwyser wat vroeër nou by Oranje se kultuur betrokke was, het Bloemhof in 2008 na Bloemfontein vir die interskole gereis.
“Ons het in daardie stadium elke kwartaal ’n kultuuraand gehad. Dit was geskeduleer vir ‘n Donderdagaand wat saam met Afrikaanse Taaldag geval het. Ek het voorgestel ons doen iets met Afrikaans as tema. Die kultuurkaptein van daardie jaar, Marieke Aucamp, het regtig baie moeite gedoen, soos navorsing oor die taal en het items voorberei.”
Botha sê ‘n versoek was intern gerig om die kultuuraand na ’n ander datum te skuif omdat Bloemhof daardie aand ontvang moes word.
“Omdat Marieke soveel moeite gedoen het, het ek gevoel ons moet voortgaan en in stede om dit te skuif, vir Bloemhof daarby betrek.
“Dít het toe gebeur en elke skool het vyf kultuuritems die aand gehad. Dit was so ’n groot sukses dat dit die geboorte was van die kultuurprogram soos hy tans daar uitsien. Want in daardie stadium was debat die enigste kultuuraktiwiteit en was daar ook net een debatspan,” sê Botha.
Toe Bloemhof twee jaar later weer hierheen gekom het, het hulle koor saamgekom. Van 2015 af tree ’n koor twee keer op, die Donderdagaand en Vrydagoggend. “Dis baie optredes as daar in ag geneem word hoe min geleenthede daar vir die koor deur die res van jaar is.”
Benewens koor en debat was Oranje se Con Spirito-sanggroep, die marimbas, drama en dans op vanjaar se kultuurprogram van die Bloemhof-interskole.

Oranje se Con Spirito-sanggroep was een van vele items op vanjaar se interskoleprogram op die Bloemhof-interskole.