Sag, liefdevol, ondersteunend en altyd positief.
Dís hoe juf. Lize du Toit deur haar leerders in haar registerklas onthou sal word.
Du Toit het verlede week ná ses jaar by Oranje gegroet. Sy het besigheids- en verbruikerstudie onderrig en was die registeronnie van die gr. 12D-klas. Sy was voor haar troue in 2018 as juf. Noomé bekend. Du Toit en haar man het na Kimberley verhuis. Die trane het vlak gelê op verlede Vrydag se saalbyeenkoms waartydens van haar afskeid geneem is.
Marianne du Plessis (gr. 12), een van die leerders wat sedert gr. 8 in Du Toit se registerklas was, sê Du Toit was nooit negatief nie. “Ek sal juf Noomé beskryf as ’n ongelooflike sagte mens wat ’n liefde vir haar werk het en passievol is. Sy spreek lewe oral waar sy gaan. Sy is ’n dame waarna ’n meisie kan opkyk en stel ’n voorbeeld. Sy is stylvol en gee baie om vir ander.
“Ek sal haar altyd onthou as ’n vriendelike mens wat entoesiasties na die lewe kyk,” sê Marianne.
Celenté van Zyl sê een van die dinge wat sy sal onthou, is Du Toit se senuweeagtige laggie as dinge liggies verkeerd loop, soos as daar nie genoeg toetsvraestelle vir die kinders is nie.
Gizelle Naudé sê sy het haar onnie se sagte manier van dinge doen, waardeer.
Van Du Toit se gunsteling-herinneringe by Oranje beskryf sy as saalperiodes waar die dogters vooraf sing en die tradisies. “Ook die tye in my klas waar sommige van die leerders alles in oordrewe vorm doen tot die kinders wat hulle harte met my gedeel het en selfs die wat letterlik alles altyd anders wou doen.
“My laaste paar weke by die skool was iets besonders. Ek het nooit gedink ek kan so lief raak vir ‘n plek en die mense daar nie. Al die dinge is goed wat ek regtig nooit sal vergeet nie en altyd in my hart sal koester.”
Volgens haar sien sy uit na hulle nuwe huis. “Dis ons eerste huis en ek het baie planne! Ek wil my ander talente, wat ek nie baie tyd voor gehad het nie, uitleef, soos om te skilder.”

Die trane het gevloei toe daar van juf. Lize du Toit afskeid geneem is. Hier word sy deur Suné Joubert omhels.

Du Toit ontvang ’n geskenk van Helené Jansen van Rensbrug.

’n Briefie saam met ’n geskenk wat aan Du Toit gegee is.

Juf. Du Toit en juf. Anne-Marie Klink, skoolhoof.