Oranje hulle alles vir jou as leerder gegee om jou met die regte koffiebeker te voorsien. Die inhoud is jou eie verantwoordelikheid.
Dít was die boodskap van Uvain Burger vroeër vandeesmaand op die jaarlikse tee wat Oranje Reünie vir die matrieks en gr. 7’s aangebied het. Burger, ’n oud-Oranjeniet (matriek 1981) was die spreker waar eers net die gr. 12’s teenwoordig was. Sy het Oranje vergelyk met drie verskillende bekertjies waaruit jy koffie kan geniet.

Die eerste bekertjie wat nie eers ‘n deksel op het nie wat jy weggooi sodra die koffie op is (polystyrene bekertjie). “Daar is dalk matrieks wat so oor die skool voel. Jy het net jou koffie kom drink, jy het jou doel bereik, jy vat jou matriek en jy stap aan. By die deur gooi jy die beker in die asblik en beweeg aan. Jy soek vir jou ‘n nuwe beker en jy huil nooit oor die een wat jy weggegooi het nie.”

Die tweede bekertjie is darem van ‘n beter gehalte gemaak en het selfs ‘n dekseltjie op sodat jy nie mors of jou hande brand nie. Miskien, het Burger gesê, was Oranje só vir jou.
“Die skool en sy strukture het jou vir ‘n rukkie warm gehou. As die skool vir jou soos dié bekertjie was, kan jy die vaardighede wat jy by Oranje geleer het, in jou lewe vorentoe gaan toepas. Ongelukkig gaan dié bekertjie ook maar op die ou einde asblik toe.”

Die derde is ’n “Stainless steel” fles wat duursaam is en lank hou – wat jy altyd kan saamvat as jy op pad is of sommer by die huis jou koffie wil warm hou.
Burger se wens vir elk van die matrieks is dat Oranje vir hulle die tipe koffiebeker voorsien wat jou waardes stewig sal binnehou en wat jou sal help om na groot hoogtes uit te styg. Hierdie beker gaan jy soek as jy hom êrens verloor!

Burger het ‘n beroep op hulle gedoen om hul koffie te gaan roer met lewensvreugde, vriendelikheid, hardwerkendheid, omgee en liefde daarin. “Want dít is die dinge wat jy nodig het om deur die lewe te kom. Oranje het ons deur al die jare met die regte resep voorsien. Ons word toegelaat om ons bekers te vul.” Haar wens vir elkeen is om altyd met vreugde te kan getuig: “My beker loop oor!”

Volgens Burger is dit as oud-Oranjes hulle verantwoordelik wees om:
• deel van die skool te bly
• jou klein bietjie ledegeld (R200 per jaar) te betaal
• voortdurend vir die skool en sy voortbestaan te bid
• te sorg dat jou koffiespatsels ander bevoordeel en verryk
• om te sien na mense om jou, want almal is nie toegerus met Oranje-bekers nie.

Die erekode is aan die matrieks gelees waarna hulle hul Reünie-balkies aan hulle skoolbaadjies vas kon steek. Hierna het 87 gr. 7’s saam met ’n paar onnies hulle by die teeparty aangesluit.
Die drie hoofleiers van die hoërskool, Lise Bezuidenhout, Lize de Wet en Bianca van der Vyver het die gr. 7’s vertel van al die opwindende dinge wat op hulle in die hoërskool wag. Die Con Spirito-koor het die gr. 7’s bekoor met hulle engelstemme en die vier hoofleidsters het die kreet en twee geesbou-liedjies vir die gr. 7’s geleer.

Juf. Anne-Marie Klink, skoolhoof van die hoërskool, was die spreker tydens die gr. 7-tee. Sy het in haar boodskap gedeel dat elkeen van hulle ‘n kosbare en unieke bydrae tot Oranje kan lewer en dat elke een ‘n belangrike skakel in die Oranje-ketting is. Sy het genoem dat die Oranje-ketting aanmekaar gesit is met eienskappe wat net hulle het en dat sy uitsien om die volgende vyf jaar ’n pad met hulle te stap.

Die gr. 7-dogters het elkeen ‘n kaartjie van juf. Klink ontvang om haar boodskap visueel voor te stel.
Hulle het ook ’n boekmerkie ontvang met ‘n individuele skoolfoto van hulle daarop en Psalm 16:6: “Die meetsnoere het vir my in lieflike plekke geval, ja, my erfenis is vir my mooi.”
Asook Pres. MT Steyn se woorde toe hy Oranje gestig het: “Gee die vrou godsdiens, eerbied en geloof in die goeie, die edele en die heilige, en sy staan so vas soos ‘n rots. Sy sal, as die geleentheid hom voordoen ’n heldin word.”

Hierna kon die dogters weglê aan hulle wafels met roomys en stroop terwyl hulle gesellig om ‘n koppie tee gekuier het.

Kliek hier vir ‘n fotogalery van die oggend.

Op die oggendtee vir Oranje se matrieks en gr. 7’s, aangebied deur Oranje Reünie, is van links, Uvain Burger (geleentheidspreker), juf. Anne-Marie Klink (skoolhoof, hoërskool) en Sarette Botha (voorsitter, Oranje Reünie).