Kyk ’n video van die matriekafskeid hier.
Die 19de van die 9de maand 2019. Beslis ‘n datum wat in elke matriekdagboek met verskeie kleure en wolkies omkring is. Hierdie dag word al vanaf 10 April, toe die matriekafskeiddatum bekendgestel is, afgetel.
Die spoggeleentheid is vanjaar vir die eerste keer by Monte Bello-landgoed, net buite Bloemfontein, gevier.
Oranje het weereens sterk met haar tradisies volgehou deur nie net die matriekdogters en hul metgeselle te nooi nie, maar ook elke dogter se ouers. Oranje-dogters is van die enigstes in Bloemfontein wat die voorreg geniet om hul skoolloopbaan saam hul ouers af te sluit. Die redenasie daaragter is dat die ouers die dogters tot só ver in hul loopbaan gebring het en dus verdien om hul gr. 12-jaar saam met hulle af te sluit. Dié tradisie word vanaf 2008 volgehou.
Voorheen is ‘n matriekdinee vir die dogters en hul metgeselle asook die matriekafskeid wat die ouers kon bywoon, afsonderlik gehou.
Die realiteit het die dogters met smeltende harte getref toe Grey gr.1’tjies hul onthou-die-datumkaartjie in April indivudueel aan hulle oorhandig het. Daar is besluit om dié glansgeleentheid se tema “Sweef” met behulp van ‘n veelkleurige lugballon bekend te stel. Dit was ook vanjaar se matrieks se tema in hulle gr. 8-jaar.
Die dogters het, nadat ‘n driegang-maaltyd aan hulle bedien is, die aand omgedans. Benita Schoonwinkel reken dat sy altyd sal onthou dat sy en haar vriendinne die bittereinders op die dansvloer was. “Die matriekafskeid het my wildste drome oortref! Elkeen van ons voel bevoorreg en dankbaar dat ons vir een aand soos ‘n prinses kon voel; gekoester en bemin,” sê sy. Michelle Radebe sê sy het alles ongelooflik baie geniet. “My matriekmaats het so mooi gelyk en ek het ‘n amazing metgesel gehad.”
Sommiges kon hul ideale uitrustings kry sonder om platsak weg te stap. Ander se spaarvarkies het egter skielik gekrimp. Dit was vir Rachèl van Rijswijk ekstra kosbaar omdat haar ma self haar rok gemaak het. Monique Davidson was ietwat gestres aangesien haar rok eers twee dae voor die tyd begin maak is.
Mev. Ilse Olivier, gr. 11-graadhoof, het ’n volle jaar aan dié asemrowende funksie beplan en wou dit ’n sprokiesverhaal maak. “Dis die hoogtepunt in ‘n dogter se skoolloopbaan. Ek wou graag hê elkeen moes die aand geniet en spesiaal voel deur al die harde werk wat ingesit is.”
Al beskryf sy die geleentheid as senutergend, is sy meer as tevrede met elke aspek.
‘n Entoesiastiese en ywerige gr. 11-ouerkomitee, met mev. Sarette Botha aan die hoof, het die aand help reël. Ouers is in groepe verdeel met elke groep wat vir ’n spesifieke funksie verantwoordelik was. Gr. 12-klasbestuurders se werk het gewissel van betalings se opvolg tot tafellyste.
Die gr. 11’s het vanjaar nadat hulle as kelnerinne en parkeeraanwysers gehelp het, by die lokaal oorgeslaap. Nadat daar opgeruim is, het die dogters om ‘n kampvuur, as voorlopers van 2020, geesgevang. Só kon hulle aan die eregaste die geleentheid bied om hul sprankelaand tot op die laaste minuut te geniet.

‘n Spanpoging soos min het bygedra tot ‘n glansaand by Monte Bello-landgoed waar vanjaar se matriekafskeidgeselligheid gehou is.