Die Hoër Meisieskool Oranje se opwindende jong naelloper, Charné Wansbury, het ’n rekord wat 17 jaar gestaan het, haar eie gemaak.
Charné het Saterdag op die Stadium Fast Foods Grey/OMS-atletiekbyeenkoms in die Mangaung-stadion die 200m vir meisies o.14 in ’n rekordtyd van 24.96 gewen. Sy het ook ’n silwermedalje in die 100m behaal.

Die byeenkoms, waarop 25 skole meegeding het, is vanjaar vir ’n 21ste keer aangebied.
Die vorige rekord (25.24) is in 2002 deur L. van Loggerenberg van Affies opgestel. Charné se blitstyd was die vyfde beste prestasie op die byeenkoms volgens die puntetabel. Sy het reeds vroeër vanjaar op die Motheo/Gariep-Sone 1-kampioenskap die aandag op haar gevestig met oorwinnings in die 100m, 200m en 400m in noemenswaardige tye.

Nog twee OMS-atlete spog ná Saterdag met byeenkomsrekords. Johani van Tonder het in die driesprong vir o.16’s met ’n sprong van 11.88 geseëvier waarmee sy die vorige rekord van vyf jaar uit die boeke gevee het. Dit was die tiende beste prestasie op die byeenkoms.
Johani, die Suid-Afrikaanse o.15 driesprongkampioen, het Saterdag ook eerste gekom in die verspring vir o.15’s.
Germarie Spershott (o.14) se sege in die 300m-hekkies in ’n tyd van 44.33 is ’n groot verbetering op die vorige vinigste tyd van 46.30 deur Liezl Theron (Hoërskool Waterkloof) in 2015. Germarie se prestasie is die 12de beste op die byeenkoms.

Sewe Oranjeniete het eerste plekke behaal. Behalwe vir Johani se twee goues en Charné en Germarie se oorwinnings, was daar seges vir Miané Smit (spiesgooi, o.14, 37.46m), Zanelle Jansen van Rensburg (90m-hekkies, o.15, 13.81m), Alri Bosch (300m-hekkies, o.15, 45.55) en Roline Louw (400m, o.14, 59.88).

Daar was ook vyf silwermedaljes behaal – Germarie (90m-hekkies, o.14), Charné (100m, o.14), Roline (200m, o.14), Lienke Snyman (3 000m, alle ouderdomme) en Magé Troskie (hoogspring, o.16).
Alri (90m-hekkies, o.15), Zanelle (90m-hekkies, o.15) en Marjaneli van Dyk (diskus, o.17) het bronsmedaljes verower.

Sewe Oranjeniete het Saterdag van die Grey/OMS-atletiekbyeenkoms met ‘n goue medalje huiswaarts gekeer. Van links is Zanelle Jansen van Rensburg (90m-hekkies, o.15), Johani van Tonder (driesprong, o.16 & verspring, o.15), Roline Louw (400m, o.14) en Charné Wansbury (200m, o.14). Afwesig: Miané Smit (spiesgooi, o.14), Germarie Spershott (300m-hekkies, o.14) en Alri Bosch (300m-hekkies, o.15).