Ná tien jaar en vele suksesse met Oranje se swemmers, gaan Brent Holmes binnekort halt roep as afrigter by Oranje.

Hy is deur die Universiteit van Pretoria aangestel om sy satellietprogram in die noorde van Pretoria te bestuur. Holmes het ingestem om nog tot einde Maart by Oranje betrokke te wees.

Onder hom het Oranje in 2016 en 2017 die All Girls’ Aquatics-byeenkoms gewen en was sodoende nie-amptelik die land se beste swemskool vir meisies. Oranje is sedert 2015 ook jaarliks die wenner vir meisies op die Interhoërgala.

Volgens hom was benewens sukses in die water ’n ander doelstelling om ’n positiewe impak op jong lewens uit te oefen.

“My afrigtingsfilosofie is om swemmers af te rig en te leer dat die dissipline wat in swem benodig word dieselfde is as wat die lewe vereis en dat indien die proses daagliks uitgeoefen word, die uitkoms goed sal wees en vir homself sal sorg.

“Die wen van die Interhoërgala vir die eerste keer in baie jare was ’n uitstaanoomblik, maar die verowering van die beker op die All Girls’ Aquatics-byeenkoms was besonders. Dit was drie jaar se beplanning en op die dag was die geloof en deursettingsvermoë so beduidend dat elke swemmer ver bo haar vermoë presteer het.”

“Die mees talentvolle swemmer wat ek afgerig het, is Tailyn Seyfert. Die hardwerkendste swemmer en iemand wat altyd vol lewenslus is en ander inspireer, is Miché Johns. Dané Eloff (2015) en Ilke Coetzer (2016) was weer vir my twee inspirerende leiers (swemkapteins).”

Holmes sê dit was vir hom aangenaam om met jong talentvolle leerders te werk.

“Ek het die vertroue wat in my gestel is hoog op die prys gestel en dit was ’n voorreg om deel van so ’n sterk en volhoubare swemkultuur en deel van die Oranje-familie. “Ek sal vir altyd met trots ‘Vooruit’ loop.”

Brent Holmes