– Deur Carla Fourie

’n Klompie van die jonger onnies by Oranje is nie net goeie onderwysers nie, maar kan ook ’n noot hou.

Juf. Andrea Liebenberg, wat die vak tegnologie aanbied, het vanjaar die derde onnie geword om in ’n sanggroep te sing. Sy het haar by juf. Christine Hugo in die a capella groep Bliss aangesluit. Die groep bestaan uit agt lede. Mnr. Stefan Buys is op sy beurt ’n lid van die manlike groep Take Note.

Juf. Liebenberg sê dis vir haar heerlik om weer te kan sing. Volgens haar kom haar liefde vir musiek van haar ma af. Haar ma het musiek studeer en was ook lank by Oranje se laer- en hoërskoolkore betrokke. Haar ma is ‘n musiekonderwyser by die Laerskool Willem Postma waar sy musiek en klavier gee asook hul seniorkoor afrig. Die musikale geen kom egter van beide ouers, want hulle het albei saam in die universiteitskoor gesing.

“My ouerhuis is baie musikaal en musiek was van kleins af deel van ons lewens. Van my skooldae af was musiek een van my groot passies,” sê juf. Liebenberg wat aan Oranje matrikuleer het.

Sy het op skool instrumente bespeel, koor gesing en was deel van verskeie orkeste. Op laerskool het sy in elke moontlike koor gesing en op hoërskool was sy in Oranje se koor, wat in daardie stadium deur haar ma dirigeer is. Ná skool was sy in die Universiteit van die Vrystaat se koor en het ook aan haar koshuis se serenadegroep deelgeneem.

Volgens juf. Liebenberg is dit ‘n wonderlike geleentheid om deel te wees van Bliss omdat dit ‘n groep uitnemende dames is wat almal ‘n passie vir musiek maak het.

Bliss bestaan al sedert 2012 en in 2019 het hulle hul eerste album uitgegee wat op baie platvorms, soos iTunes, Spotify en Deezer beskikbaar is. Hulle is nie verbonde aan ‘n spesifieke genre nie en sing ‘n groot verskeidenheid liedjies.
Onder normale omstandighede oefen hulle twee uur per week. Tans, tydens die Covid-19 inperking, oefen elke lid op haar eie.

Die a capella-groep Bliss. Derde van links is juf. Andrea Liebenberg, nuwe lid van 2020. Regs van haar is haar kollega, juf. Christine Hugo.